Twee mans is dood in ʼn botsing waarin drie voertuie Sondag in die noorde van Pretoria betrokke was.
Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê die botsing het omstreeks 03:30 op die R80 by die Wonderpark-brug in Rosslyn plaasgevind.
“Dit is nog nie bekend wat tot die botsing gelei het nie. Dit word deur die polisie ondersoek,” het Botha gesê.
“Met paramedici en nooddienste se aankoms op die toneel, was die twee mans reeds dood weens die veelvoudige beserings wat hulle opgedoen het. Twee mense het wonderbaarlik slegs met geringe beserings die botsing oorleef.”
Die twee mense is op die toneel behandel en na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir waarneming.