Vyf persone is in hegtenis geneem in verband met die gewelddadige moord op vyf persone, waaronder ʼn driejarige en vyfjarige, in KwaCeza, KwaZulu-Natal.
“Ses persone was omstreeks 21:00 by hul huis in Mpambulekweni toe vyf onbekende persone hulle oorval het,” het maj. Shooz Magudulela, woordvoerder van die polisie, gesê. “ʼn 33-jarige persoon is in die kop geskiet en is op slag dood. Die ander drie slagoffers, onderskeidelik vyf, 58 en 60 jaar oud, is in die rondawel aan die brand gesteek. Hulle is oorlede.”
Magudulela het gesê ʼn driejarige is met ʼn mes opgekap.
Die sesde slagoffer, ʼn 15-jarige, is ook met ʼn mes gekap en hy het ernstige beserings opgedoen. Hy is na ʼn hospitaal geneem vir behandeling.
“ʼn Taakspan het die gewelddadige moorde ondersoek en vyf verdagtes, tussen 25 en 33 jaar oud, sal binnekort in die Mahlabathini-landdroshof verskyn,” het Magudulela bygevoeg. “Die motief vir die moorde is nog nie bekend nie. Die polisie ondersoek vyf sake van moord en een van poging tot moord.”