David Perel het Vrydag aan Maroela Media vertel van die oomblik toe die hommeltuig deur sy kantoorvenster in Groenpunt gebars het. “Ek het ʼn hoë fluitgeluid gehoor en die volgende oomblik was daar ʼn harde slag, stukkies glas het oral gespat en iets het my hard teen die kop getref. Ek het so groot geskrik! Jy kan hoor op die video daar het sommer kru-taal uitgeglip,” het hy gesê.
Volgens Perel was stukkies glas oor sy hele kantoor versprei en was die hommeltuig erg beskadig. Perel het gelukkig nie seergekry nie, behalwe vir ʼn kneusplek teen sy kop.
“Sowat tien minute later het die verleë eienaars van die hommeltuig aan my kantoordeur kom klop om die hommeltuig te kry. Hulle het verduidelik dat dit ʼn nuwe hommeltuig is en dat hulle besig was om dit uit te toets toe hulle as gevolg van die wind beheer oor die toestel verloor het. Hulle het probeer om die hommeltuig terug na hulle toe te stuur, maar die wind het dit dwarsdeur my kantoorvenster gewaai,” het Perel gesê.
Perel het die beeldmateriaal wat die hommeltuig afgeneem het toe die voorval gebeur het op YouTube gedeel. Kru-taal word in die video gebruik en kykerdiskresie word aanbeveel. Kyk die video hier.