ʼn Pasgebore babadogtertjie is in ʼn ernstige toestand in die hospitaal, nadat sy in ʼn veld in Johannesburg gelos is.
Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die dogtertjie is Woensdagoggend in ʼn veld in Eldoradopark, Soweto, gevind.
“ʼn Inwoner het deur die veld gestap op pad werk toe en op die babatjie afgekom. Die inwoner het dadelik die polisie ontbied.”
Die polisie het die baba na ʼn nabygeleë kliniek geneem om vir paramedici te wag. “Met ons aankoms by die kliniek is die baba se toestand as ernstig beskryf en die verpleegsters het na haar omgesien.”
Die baba is met ʼn ambulans na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal geneem vir verdere behandeling.
Die polisie ondersoek die voorval.