Die organisasies, wat die Anglikaanse Kerk van Suid-Afrika, die Evangeliese Alliansie, die SA Christelike Leierskap Inisiatief, die Verenigde Front en vakbonde insluit, het Dinsdagaand ‘n dringende vergadering gehou om “die groeiende politieke en ekonomiese krisis wat Suid-Afrika ervaar”, te bespreek.
“Mense is in pyn, kwaad en die dringendheid van die saak neem toe. Al hoe meer mense en organisasies is van mening dat Jacob Zuma moet bedank of deur die ANC verwyder moet word,” het die organisasies in ‘n gesamentlike verklaring gesê.
“Die politieke partye het misluk. Oortuiging en beroepe het misluk. Die howe het gepraat en nou moet ons mense ons hardgewonne demokrasie terugeis van diegene wat dit ontreinig vir eie gewin.”
Volgens die koalisie het die LP’s wat gestem het dat Zuma moet bly, die grondwet in oneer gebring en miljoene mense teleurgestel. “Dit beteken ons land sal voortgaan om van krisis tot krisis te steier. Dit is duidelik die Nasionale Vergadering verstaan nog nie die uitsprake van die konstitusionele hof oor die skeiding van magte en sy primêre plig om die grondwet te verdedig en te bevorder nie.”
Die organisasies het gesê hulle sal planne bekendmaak vir landwye betogings en mobilisering om Zuma uit sy amp te verwyder.