Sekuriteit by die lughawe was baie streng met nuwe inboek-prosedures vir passasiers. Twee ander vliegtuie is geskeduleer om later Sondag te vertrek – vlugte van die Brussel-lugredery na onderskeidelik Athene en Turin, Italië.
Die eerste drie vlugte is beskou as ʼn toetslopie vir die lughawe wat gewoonlik ongeveer 600 vlugte per dag hanteer.
Arnaud Feist, die uitvoerende hoof van Brussels Airport Co., het gesê Sondag se vlugte was ʼn simboliese teken van hoop ná “die donkerste dae in die lugvaartgeskiedenis van België”. Hy het werknemers bedank vir hul dapperheid, solidariteit en die “indrukwekkende werk wat in so ’n kort tydjie vermag is”.
“Ons is meer as net ʼn lughawe. Ons is ʼn familie wat nou nader aan mekaar is as ooit vantevore,” het Feist gesê. “Dit sal tyd neem om te aanvaar wat gebeur het en selfs nog meer tyd om oor die pyn te kom. Maar ons sal nooit vergeet nie.”
Twee aanvallers het hulself op 22 Maart in die vertreksaal van die Brussel Zaventem-lughawe opgeblaas, terwyl ʼn derde ontploffing ʼn treinstasie naby die hoofkantoor van die Europese Unie geruk het. Nog ʼn bom het later op die lughawe ontplof toe bomkenners op die toneel was. Niemand is in hierdie laaste ontploffing beseer nie. Die Islamitiese Staat (IS) het verantwoordelikheid vir albei aanvalle geneem.
Volgens Feist sal België se grootste lughawe teen Maandag met 20% van sy normale werkvermoë bedryf word en ongeveer 800 passasiers per uur kan hanteer. Hy hoop werkverrigting by die lughawe sal teen einde Junie of die begin van Julie weer heeltemal terugkeer na normaal.