Kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, het bevestig die 69-jarige vrou is op die plaas Waterval deur een van die plaaswerkers oorval. Sy was glo in die stadium alleen by die huis.
“Die werker het ʼn .22-geweer by hom gehad en het geld geëis. ʼn Tweede aanvaller wat ʼn balaklawa gedra het, het ingekom en beveel dat sy die kluis moet oopmaak. Die aanvallers het haar daarna vasgebind,” het Otto gesê.
Volgens Otto het die vrou daarin geslaag om haar los te woel en toe die aanvallers dit sien, het hulle haar in haar bors geskiet. Die aanvallers het met selfone, ʼn handsak, beursie en bankkaarte op die vlug geslaan.
Die vrou is na ʼn hospitaal in Pretoria gehaas. Dit is nie in die stadium bekend hoe ernstig haar toestand is nie.
Otto het gesê ʼn saak van poging tot moord en gewapende roof sal ondersoek word. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
In nog ʼn Limpopo-plaasaanval, sowat 200 km daarvandaan in die Groblersdal-omgewing, is ʼn boer Vrydagmiddag met ʼn mes doodgesteek. Die aanvaller is tydens die voorval geskiet en is tans onder polisiebewaking in die hospitaal.