Die Onafhanklike Uitsaaikommissie van Suid-Afrika het ʼn taalbeleid aanvaar wat meeste Suid-Afrikaners, en veral gemeenskapsradiostasies en plaaslike televisiekanale gaan raak.
Die kommissie het dié taalbeleid aanvaar wat deur die Telekommunikasie Reguleringsowerheid (Satra) voorgelê is. “Die doel van die nuwe taalbeleid is om versoening en taal-inklusiwiteit te bevorder,” het ʼn woordvoerder van die kommissie gesê.
Volgens die nuwe taalbeleid moet gemeenskapsradiostasies, wat tot dusver slegs in een taal, byvoorbeeld slegs in Afrikaans uitgesaai het, hul programskedule aanpas om ook Engelse programme en programme in minstens een ander taal in te sluit. Afrikaanse gemeenskapsradiostasies in KwaZulu-Natal sal dus voortaan in Afrikaans, Engels en isiZulu moet uitsaai. “Luisteraars moet ook aangemoedig word om in hul moedertaal deel te neem aan die verskillende programme.”
Taalkursusse sal ook elke weeksaand tussen 18:00 en 19:00 op die onderskeie SAUK-kanale uitgesaai word om seker te maak dat Suid-Afrikaners minstens een bykomende taal aanleer. Aanvanklik sal slegs isiZulu, isiXhosa, Afrikaans en Sesotho-klasse uitgesaai word. “Dit sal ons plaaslike programme, wat reeds van hoogstaande gehalte is, selfs nog meer toeganklik maak vir alle Suid-Afrikaners. Ons is opgewonde oor dié voorstel,” het die kommissie gesê.
Die eerste taalkursus word reeds op 1 April uitgesaai.
***LET WEL: Hierdie berig was slegs deel van Maroela Media se poging om ons lesers op Aprilgekdag ‘n rat voor die oë te draai. Dit is dus glad nie waar nie. Lees meer: Aprilgek: Het ons jou gevang?