Die konstitusionele hof het Donderdag beslis president Jacob Zuma moet die Openbare Beskermer se aanbevelings uit haar Nkandla-verslag volg en binne die volgende 45 dae persoonlik ‘n gedeelte van die geld, wat aan nie-sekuriteitsopgraderings spandeer is, aan die staat terugbetaal.
Thuli Madonsela, Openbare Beskermer, het bevind dat luukshede op staatsonkoste bygevoeg is tot die eiendom, soos ʼn swembad, hoenderhok, beeskraal en amfiteater, en dat dit nie as bykomende veiligheidskenmerke beskou kan word nie. Sy het Zuma aangesê om ʼn redelike gedeelte van die R216 miljoen terug te betaal.
Zuma het meer as ʼn jaar lank geweier om die geld terug te betaal, en die EFF en DA het hom en Baleka Mbete, speaker van die parlement, hof toe gesleep.