Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Nuuskommentaar: Wat ná Jacob Zuma?

$
0
0
Pres. Jacob Zuma. Argieffoto: Flickr/GovernmentZA

Pres. Jacob Zuma. Argieffoto: Flickr/GovernmentZA

Met die konstitusionele hof se Nkandla-uitspraak vandag en steeds nuwe Gupta-onthullings wat die media haal, verhoog die kanse dat die ANC binnekort plan sal moet maak om te red wat te beredder is … sonder pres. Jacob Zuma.

Seker die grootste vrees by baie Suid-Afrikaners is die kommer dat die ANC die land met nog ’n ramp as president kan “beloon”.

Waarskynlik die beste waarop die land kan hoop, is dat die verwydering van Zuma op so ’n wyse sal geskied dat adjunk-president Cyril Ramaphosa as waarnemende president sal optree, en genoeg tyd in hierdie posisie sal kan beklee dat hy hom as bekwame en waardige president kan vestig om sy party se keuringsmasjinerie te oorleef.

Nie dat almal hiermee sal saamstem nie.

Die ander opsies wat tot dusver genoem word, boesem nie veel vertroue in nie.

Maklik sal dit nie vir Ramaphosa gaan nie. Die ANC-Vroueliga staan volgens uitsprake nog bankvas agter Zuma, en sal waarskynlik moeilik ’n opvolger steun wat gesien word as deel van die groep wat Zuma uitgewerk het. Veel eerder sal die Vroueliga na ’n kandidaat uit eie geledere kyk, en dit is waarskynlik Nkosazana Dlamini-Zuma.

Voorts is Ramaphosa ’n Venda, een van die kleinste volke in die land. Om vanuit so ’n posisie verkies te word is nie onmoontlik nie. Nadat die argaïese Yomo Kenyatta Kenia se politieke toneel verlaat het, is Daniel arap Moi as president van die land aangewys. Groot verwagtinge is gekoester dat hy as lid van ’n klein stam goed geplaas is om nie persepsies te vestig dat een van die groot stamme deur die president se stamverwantskap bo ander bevoordeel sal word nie. Hy het egter die de factoeenpartystaat goed benut om nie net sy eie posisie jare lank sterk te verskans nie, maar sy stam se mense mildelik voorgetrek. Nadat hy die politieke toneel verlaat het, het die groot stamme weer om die septer begin baklei, en ná 2007 se verkiesing was daar ’n inter-etniese bloedbad. Kortom, dit is nie so eenvoudig om Ramaphosa se stamverband as voordeel te beskou nie, hoewel Ramaphosa sal moet uithaal en wys as hy by Zuma se Zoeloefikasie sal wil byhou.

Die hele debat oor Zuma se opvolger geskied teen die agtergrond dat Suid-Afrika in baie opsigte ’n de factoeenpartystaat is. Die probleem word verdiep deurdat die kiesers nie, soos in onder meer Frankryk en die VSA, die president regstreeks verkies nie, maar dat dit suiwer huishoudelik deur die regerende party hanteer word.

Die frustrasie hiermee het reeds daartoe gelei dat daar in baie kringe ’n versugting uitgespreek is dat Suid-Afrika, soos die VSA, ’n de facto-tweepartystaat word. Almal wat onvrede met die ANC het, kan as verenigde magsblok die ANC doeltreffend opponeer, word geredeneer.

Die opkoms van die EFF het egter getoon hoe onmoontlik so iets sal wees. Die VSA het wel ’n magdom politieke partye maar is meestal te klein om hond haaraf te maak. Omdat die stelsel van koukusgebondenheid in die VSA baie losser is as in SA, word belange en idees veel eerder deur belangegroepe en lobbies bevorder, wat bepaalde kandidate voorkeur gee.

Die stelsel skep weer ander probleme, soos dat daar deurlopend probeer word om kongreslede se stemme op ’n onbehoorlike wyse vir sake van eiebelang te koop. Dit het tot ’n magdom kodes en wetgewing aanleiding gee om dié tipe optredes, wat aan die beweerde Gutpa-invloed hier herinner, hok te slaan.

Die stelsel in die VSA lewer ook verskeie probleme op, soos dat die meerderheid kiesers ontevrede is met die kongreslede wat hulle self verkies het. By tye gaan dit so beroerd dat peilings toon die meerderheid kiesers glo mense wat lukraak uit ’n telefoongids as kongreslede aangewys sou word, sal beter werk verrig as die verkose verteenwoordigers.

’n Onlangse peiling toon 54% van die kiesers wil hê die regering moet minder geld spandeer, maar net 29% glo dat dit wel sal gebeur.

Die interessantheid is dat daar vanjaar ’n derde party nie net tot die presidentsverkiesing toetree nie, maar dat peilings toon dat een van die kandidate, Gary Johnson (goewerneur van New Mexiko), 11% van die stemme kan trek. Dit terwyl verreweg die meeste kiesers nog nie weet wie hierdie persoon is nie. Die party, die Libertarian Republic, beywer hom juis vir minder staatsbetrokkenheid by sake waar die staat se rol nie absoluut noodsaaklik is nie.

Dit moet egter in gedagte gehou word dat sowel die Republikeine (Donald Trump) as die Demokrate (Hillary Clinton) se kandidate met ongewoon baie teenstemme te make het. Johnson bied nou ’n alternatiewe opsie.

Tot die ANC se parlementêre meerderheid weggewerk is, kan veral opposisiekiesers bloot hoop dat die ANC se ringkoppe dinge binne die ANC so kan bestuur dat ’n soortgelyke ramp soos Zuma se verkiesing nie weer gebeur nie.

Terselfdertyd beklemtoon dit die belangrikheid dat ander fasette van grondwetlike demokrasie behoorlik gerugsteun word, soos ’n vrye pers en sterk burgerlike instellings, soos Freedom Under Law, Outa, AfriForum en ander. Dit is kwalik denkbaar waar die land sonder hulle sou wees.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!