
Nico van der Walt, die Karoo Nasionale Park se parkbestuurder, by Sylvester toe hy verlede jaar uiteindelik gevang is. Foto: Verskaf.
SANParke het Woensdag bekend gemaak hulle oorweeg vyf opsies vir Sylvester, die jong rondloperleeu van die Karoo Nasionale Park wat Maandag vir die tweede keer uit die reservaat ontsnap het, sodra hy weer gevang word.
Wanda Mkutshulwa, SANParke se uitvoerende hoof van korporatiewe dienste, het gesê SANParke is bewus van die publiek se pleidooie om Sylvester se lewe te red.
“Ons wil die publiek gerusstel dat daar maatreëls is om die leeu veilig te vang. ʼn Verklaring is Dinsdag voortydig uitgereik dat hy van kant gemaak gaan word en ons vra om verskoning vir dié verkeerde stelling. Dit is ʼn onakkurate stelling van die posisie waarin die organisasie hom bevind,” het sy gesê.
Sy het gesê die volgende opsies word vir Sylvester se toekoms oorweeg:
* Hy kan teruggeneem word na die Karoo Nasionale Park, met die heinings wat versterk word;
* Hy kan hervestig word in ’n ander nasionale park;
* Hy kan geskenk word aan ’n ander staatsbeheerde bewaringsgroep;
* Hy kan geskenk word aan ’n private bewaringsgroep; of
* Hy kan van kant gemaak word indien hy ʼn gevaar vir mense inhou of te veel vee vir prooi doodmaak.
“Ons moet in gedagte hou dat ’n leeu ’n baie groot bedreiging vir ’n mens se lewe is. Ons optrede in dié verband is in ooreenstemming met internasionale norme en standaarde. Ons wil die publiek verseker dat ons besluit oor Sylvester se toekoms verantwoordelik en weldeurdag sal wees,” het sy bygevoeg.
Maroela Media het vroeër berig nuus dat Sylvester moontlik van kant gemaak gaan word, het hewige reaksie op sosiale media ontlok.
Talle mense het met #SaveSylvester op Twitter hul misnoeë oor die besluit uitgespreek en dié hutssleutel was Woensdagoggend een van die gewildste onderwerpe.
Reynold Thakhuli, woordvoerder van SANParke, het Woensdag aan Maroela Media gesê daar is egter nog geen amptelike besluit geneem om Sylvester uit te sit nie.
“Ons kan bevestig dat dit wel een van verskeie opsies is wat oorweeg word as hy weer gevang word, maar dis is beslis nog nie sy finale lot nie,” het Thakhuli gesê.
Hy het gesê ʼn hoëprofiel-vergadering sal na verwagting Woensdag gehou word om Sylvester se toekoms te bepaal.
“Die mannetjie is nog jonk en dit is duidelik dat hy nie in die park aanpas nie. Hy word beskou as ʼn probleemdier en ons moet besluit of hy geskuif kan word en of hy op ander plekke sal kan aanpas.”
Verskeie reservate en wildplase het aangebied om vir Sylvester ʼn nuwe heenkome te bied.
Intussen is die soektog na Sylvester Woensdagoggend met eerste lig hervat. ʼn Span van 14 mense, onder wie ʼn veearts, is op sy spoor. SANParke het ná sy vorige ontsnapping vir hom ʼn satelliethalsband aangesit, wat die span gebruik om na hom te soek.
“Die soektog word tans te voet gedoen, maar die terrein is baie moeilik. Sylvester is sowat 25km buite die westelike kant van die reservaat.”
ʼn Helikopter word ook ingespan om te help soek.
Sylvester, die naam wat omliggende boere vir hom gegee het ná sy eerste ontsnapping op 5 Junie verlede jaar, het Maandag vermoedelik weer op dieselfde manier ontsnap.
“Swaar reënval het veroorsaak dat grond onder die heining weggespoel het en hy het weer deur ʼn gat onder die heining gekruip,” het Thakhuli vroeër gesê. Hy het teen Dinsdag reeds ʼn koei op ʼn plaas gevang.
Sylvester, toe drie jaar oud, se vorige soektog en versekeringseise van al die prooi wat hy tydens sy 25 dae op vrye voet verorber het, het SANParke R800 000 uit die sak gejaag. Hy het toe sowat 26 skape, ʼn koei en ʼn koedoe doodgemaak.
Hy is uiteindelik 29 Junie omstreeks 17:00 in die Nuweveldberge, noordwes van Beaufort-Wes in die Wes-Kaap, aangekeer. Hy is toe vermoedelik deur ander dominante leeumannetjies verjaag.