Die departement het in ʼn verklaring bevestig Michael Masutha, minister van justisie en korrektiewe dienste, se regspan het sy appèlaansoek teen die uitspraak van die hooggeregshof in Pretoria ingedien.
Die hof het vroeër vandeesmaand die minister se weiering om die Poolse immigrant, wat Hani 23 jaar terug geskiet het, op parool vry te laat, tersyde gestel. Die minister is aangesê om Walus se paroolvoorwaardes binne die volgende 14 dae vas te stel en hom vry te laat.
Mthunzi Mhaga, woordvoerder van die departement, het gesê Masutha glo die hof het fouteer in sy uitspraak en daar is ʼn goeie kans dat die departement se appèl teen die uitspraak sal slaag.
Die ANC het vroeër woedend gereageer op die hof se besluit dat Walus vrygelaat moet word en het gesê die uitspraak ontken die vernietigende impak wat die moord op Hani op die ANC, die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) en Suid-Afrika as geheel gehad het.
Walus, ʼn Poolse immigrant, het Hani, die leier van die SAKP, in April 1993 doodgeskiet. Hy is oorspronklik die doodstraf opgelê, maar dit is later na lewenslange tronkstraf omgeskakel nadat die doodstraf afgeskaf is.
Clive Derby-Lewis, wat ook lewenslange tronkstraf uitgedien het vir sy aandeel in die moord op Hani, is verlede jaar ná herhaalde pogings op mediese parool vrygelaat.