
Australopithecus afarensis-vonds by Kantis naby Nairobi, Kenia Foto: Journal of Human Evolution, Elsevier
ʼn Span paleontoloë het glo onbetwiste oorskot van die vroeë moderne mens naby Nairobi in Kenia ontdek.
Kantis, ʼn nuwe paleontologiese perseel wat glo 3,5 miljoen jaar oud is, is geleë naby Gregory Rift-vallei, ʼn paar kilometer buite Nairobi en het na bewering ʼn vroeë menslike spesie (van die moderne mens), geklassifiseer as Australopithecus afarensis opgelewer.
Dr. Emma Mbua, ʼn senior navorsingswetenskaplike, het gesê dié vonds is die eerste onbetwiste bewys in Kenia, wat die geografiese gebied van Australopithecus afarensis na Kenia uitbrei.
Die ontdekking is vandeesmaand in die Journal of Human Evolution, Elsevier, gepubliseer.
Mbua het aan African News Agency gesê saam met die menslike oorskot is daar ook oorskot van seekoeie, ape, bokke, renosters en kameelperde gevind.