
‘n Skermskoot van Bryce Williams toe hy nog by WDBJ gewerk het.
CNN berig die verdagte, Vester Flanagan, is deur polisiebeamptes op ʼn hoofweg voorgekeer waarna hy homself geskiet het. Volgens die berig is hy in ʼn ernstige toestand hospitaal toe geneem. Flanagan het glo ook vir dieselfde nuuskanaal, WDBJ, gewerk as Alison Parker en Adam Ward, wat doodgeskiet is.
Volgens berigte het Flanagan die naam Bryce Williams gebruik toe hy by die nuuskanaal gewerk het. Hy is glo afgedank, maar die rede hiervoor is nie bekend gemaak nie.

‘n Skermskoot van die inskrywings wat Williams glo kort na die skietery op Twitter gemaak het.
Alison Parker, ʼn TV-aanbieder en Adam Ward, ʼn kameraman, is omstreeks 06:45 Woensdagoggend doodgeskiet tydens ʼn regstreekse uitsending.
Tydens die onderhoud is skote en gille skielik gehoor waarna die kamera op die grond geval het. Volgens WDBJ7 was Ward 27 jaar oud terwyl Parker pas 24 geword het. Parker was besig om ʼn onderhoud te voer met Vicki Gardner, ʼn direkteur by die plaaslike sakekamer, oor toerisme in die area toe die aanval plaasgevind het. Gardner is in die rug geskiet en is in die hospitaal opgeneem.