Clik here to view.

Pikitup (Argieffoto)
Tydelike werkers van die vullisverwyderingsmaatskappy Pikitup is in Alexandra, noord van Johannesburg, aangeval terwyl ʼn gewelddadige staking voortduur. Hope vullis het tydens die Paasnaweek nog oor paaie in dié stad gestrooi gelê.
Pikitup het in ʼn verklaring gesê sewe persone is beseer toe ʼn groep hulle Saterdagaand tydens ʼn skoonmaakoperasie aangeval het.
“Ons gebeurlikheidspan is ongelukkig Saterdagaand in Alexandra aangeval na lede van die gemeenskap vrywillig aangebied het om hul onmiddellike omgewing skoon te maak. Twee van ons vragmotors is aangeval en beskadig en sewe spanlede is beseer. Ons wens hulle ʼn spoedige beterskap toe,” het die maatskappy Sondag gesê.
Volgens Pikitup is twee oortreders op die toneel in hegtenis geneem. “Hierdie optrede van intimidasie en geweld maak dit uiters moeilik om die plek skoon te maak,” het die maatskappy gesê.
Die jongste voorval volg ná ʼn versoek deur die stadsbestuurder Trevor Fowler Saterdag toe hy veiligheidsdienste en inwoners versoek het om vrywillig op te tree en vullis skoon te maak nadat Pikitup-werknemers twee weke gelede met ʼn onbeskermde staking begin het.
Fowler het gesê só ingryping sal die vullisverwyderingspan help om die vullis in ʼn veilige omgewing te versamel en onwettige storting skoon te maak.
Die stakende werkers, hoofsaaklik lede van die munisipalewerkersvakbond Samwu, het ʼn hofinterdik verontagsaam en dreigemente van afdanking geïgnoreer toe hulle versuim het om terug te keer werk toe.
Dit is die vierde onbeskermde staking sedert November 2015 in ʼn reeks botsings tussen bestuur en werknemers oor kwessies wat verband hou met salarisverhogings en eise dat die hoof van Pikitup, Amanda Nair, afgedank moet word. Hulle beskuldig Nair van korrupsie.
Nair is verlede jaar in die hooggeregshof vrygespreek op enige aanklag wat met die saak verband hou.
Ongeveer 4 000 werknemers het begin staak toe die verhoging nie op hul Februarie-salarisstrokie gewys het nie. Onderhandelinge het intussen vasgeval.
Pikitup betaal intussen R1 miljoen per dag om privaat kontrakteurs aan te stel om die vullis te verwyder met veiligheidsbegeleiding om aanvalle deur onbekende individue te verhoed.
Lees alle vorige berigte oor Pikitup op Maroela Media.