
‘n Petroltenkwa het op 27 Maart by die Umvoti Shell Ultra City op die N2 in KwaZulu-Natal aan die brand geslaan Foto: Netcare 911
Die N2 is by Salt Rock in KwaZulu-Natal gesluit en verkeer word na die R102 herlei ná ‘n petroltenkwa Sondagoggend by die Umvoti Shell Ultra City tussen Ballito en Stanger aan die brand geslaan het.
Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê paramedici is na die toneel ontbied waar ‘n petroltenkwa aan die brand geslaan het. ‘n Aantal vragmotors wat by die vulstasie parkeer was, het ook aan die brand geslaan.
Botha het gesê niemand is tot dusver in die voorval beseer nie.
Owerhede het inwoners versoek om nie die toneel te nader nie, weens ‘n gevaar vir verdere ontploffings.
‘n Ondersoek na die oorsaak van die ontploffing sal gedoen word sodra die brand onder beheer gebring is.