
Oscar Pistorius op 21 Oktober 2014 in die Pretoriase hooggeregshof tydens vonnisverrigtinge Foto: Themba Hadebe/AP/Pool
Die 33-jarige man wat glo R250 000 omkoopgeld van Oscar Pistorius probeer eis het in ruil vir sy “vryheid”, sal na verwagting Donderdag weer in die gespesialiseerde kommersiële misdaadhof in Pretoria verskyn.
Die beskuldigde, Tshifhiwa Reuben Radzhadzi, het Dinsdag tydens sy eerste hofverskyning regdeur die hofverrigtinge sy kop bedek, en gesê dat hy nierverwante kwale het en geen medikasie by hom het nie.
Radzhadzi staan tereg op aanklag van korrupsie en ʼn moontlike aanklag van afpersing kan by sy klagstaat gevoeg word.
Aanklaer Willem van Zyl het versoek dat die saak uitgestel word omdat die polisie nog moet vasstel of Radzhadzi uitstaande sake teen hom het alvorens hy vir borgtog kan aansoek doen.
Radzhadzi het hom na bewering as ʼn beampte van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) voorgedoen en R250 000 omkoopgeld van Pistorius geëis om sy moordsaak “te vernietig” en vryheid te waarborg.
Hy is Vrydagmiddag naby die hooggeregshof in Pretoria deur die Valke in hegtenis geneem nadat hulle vir hom ʼn lokval gestel het.
Volgens brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, is die Valke Donderdagaand ingelig oor die “beampte”. Die verdagte het Pistorius glo genader en R250 000 geëis om die moordsaak teen hom te laat “vernietig”.
Die Valke het ʼn lokval gestel en die man is in hegtenis geneem nadat hy ʼn R40 000 “deposito” in ontvangs geneem het.
Annelise Burgess, woordvoerder van die Pistorius-familie, het bevestig dat Pistorius deur ʼn man genader is wat hom glo as ʼn NVG-beampte voorgedoen het. “Oscar het die Valke daarvan in kennis gestel, en die Valke het ʼn lokval opgestel,” het Burgess gesê. “Ons loof die Valke vir hul spoedige optrede en die manier waarop hulle die saak hanteer het.”
Die konstitusionele hof het vroeër vandeesmaand Pistorius se aansoek om verlof tot appèl teen sy skuldigbevinding afgekeur. Die konstitusionele hof was Pistorius se laaste poging om uit die tronk te bly nadat hy Reeva Steenkamp in 2013 doodgeskiet het. Pistorius verskyn op 18 April in die Pretoriase hooggeregshof om gevonnis te word op aanklag van moord.
Lees alle vorige berigte oor Oscar Pistorius op Maroela Media.