Keith Khoza, die ANC woordvoerder, het die voorval op sy Facebook-blad bekendgemaak. “Wees dringend op die uitkyk vir drie swart mans, almal gewapen, wat pas ʼn blou Porsche Panamera in Rooihuiskraal, Centurion, gekaap het. Die persoon wat beroof is, is genl. Siphiwe ‘Gebhuza’ Nyanda. Die verdagtes het die Johannesburg-roete geneem,” het hy geskryf.
Kol. Noxolo Kweza, woordvoerder van die polisie, het die kaping bevestig en gesê die motor is later naby die plek waar dit gekaap is, opgespoor. Volgens Kweza het Nyanda nie seergekry nie.
Nyanda het vir ʼn kort rukkie van 2009 tot 2010 as minister van kommunikasie gedien. Hy is in hierdie tyd gekap oor sy “luukse voorkeure” nadat dit aan die lig gekom het dat hy in ʼn luukse hotel in Kaapstad tuisgaan eerder as in die ministeriële huis wat verskaf word.