Preshalin Naidoo het Woensdag in die Randburg-landdroshof verskyn op aanklagte van roekelose bestuur en strafbare manslag. Die saak is tot 29 Oktober uitgestel.
Satch Govender, Naidoo se regsverteenwoordiger, het die hof vir uitstel gevra sodat hy die verslae van ongeluksrekonstruksiekenners kan bestudeer. Hy moet ook met die advokaat konsulteer wat by hom sal oorneem om Naidoo te verteenwoordig. Govender het gesê die verdediging oorweeg nog watter stappe om te neem, insluitend ʼn moontlike pleitooreenkoms.
Landdros Ndivhuwo Setusha het aanvanklik die uitstel geweier omdat die tydperk te lank is, maar het dit later tog toegestaan.
Mhere en sy vriendin, Kady-Shay O’Bryan‚ wat ʼn passasier in die motor was wat deur Mhere bestuur is, is op 31 Januarie op die ongelukstoneel in William Nicolweg dood. Hulle was op pad na die OR Tambo Internasionale lughawe waar hulle na Kaapstad sou vlieg vir die J&B Met. Mhere se pa, Joseph, was ook in die motor.
Mhere was ʼn aanbieder van die leefstylprogram Top Billing en O’Bryan (29) was ʼn blogger, sosiale kommentator en ʼn enkelma van ʼn vierjarige dogtertjie.