Twee ontploffings by ʼn lughawe en ʼn treinstasie het Brussel, die hoofstad van België, Dinsdag geruk.
Ten minste een mens is dood in die ontploffing in die vertreksaal van die Brussel-lughawe. Alle vlugte is gekanselleer, inkomende vliegtuie is herlei en België se terreurvlak is tot maksimum gestel.
Kort daarna is verskeie mense beseer in ʼn tweede ontploffing by die Brussel se metro-treinstasie naby die hoofkantoor van die Europese Unie. Die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NATO) se hoofkantoor is ook in Brussel.
ʼn Polisiewoordvoerder het onmiddellik ná die ontploffings bevestig dat een mens dood is, maar dit is waarskynlik dat die dodetal sal styg. BBC het berig dat daar reeds 13 sterftes aangemeld is. Die ontploffings het plaasgevind tydens die besigste tyd by die lughawe en dik rookwolke het agterna by die gebou uitgeborrel.
Denise Brandt, ʼn Amerikaanse vrou, het aan Sky-televisienuus gesê sy het onmiddellik geweet dat die harde slag ʼn ontploffing was. “Ek kon die ontploffing in my lyf voel. Ons het net na mekaar gekyk en in die ander rigting beweeg, asof ons ʼn instink gehad het om weg te kom van die ontploffing af. Toe het ons gesien hoe mense huilend in ons rigting hardloop.”
Die ontploffings volg enkele dae nadat die hoofverdagte van die Parys-aanvalle, Salah Abdeslam, in Brussel in hegtenis geneem is.
Bly op hoogte met nuus wat op Twitter gedeel word (let asseblief daarop dat Maroela Media nie aanspreeklik gehou kan word vir die inligting wat in dié Twitter-voer gedeel word nie):
#brussels Tweets