Konst. Ashley Clint Munnik van Athlone in Kaapstad het die week in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof voor landdros Sabrina Sonnenberg verskyn. Sonnenberg het op versoek van die staatsaanklaer Simon Leope die saak tot 21 April uitgestel wanneer die pleitooreenkoms na verwagting afgehandel sal wees.
Volgens die klagstaat was Munnik by die Bonteheuwel-polisiestasie gestasioneer en was hy die ondersoekbeampte in die saak van ʼn man wat in hegtenis geneem en aangekla is vir die besit van 17 pakkies tik.
Munnik moes die 17 pakkies tik na die forensiese laboratorium in Plattekloof neem, maar het glo net vyf daarvan na die laboratorium geneem en die ander 12 pakkies vir homself gehou. Hy het glo ook die reeksnommer op die forensiese sak, waarin die tik gehou is, verander en het dit daartoe gelei dat die klag teen die beskuldigde teruggetrek is.
Munnik is in hegtenis geneem en staan tereg op aanklagte van bedrog en regsverydeling.