Die name van die twee vroue wat Vrydagaand dood is in ʼn botsing met een van Senzo Mchunu, premier van KwaZulu-Natal, se begeleidingsvoertuie, is bekend gemaak.
Ndabezinhle Sibiya, woordvoerder van die premier se kantoor, het gesê die twee slagoffers is geïdentifiseer as Buyi Hadebe en Nonto Xulu, albei in hul 30’s, van Empangeni.
Die Toyota Yaris waarin die vroue gery het, het Vrydagaand omstreeks 19:30 teen ʼn Ford Ranger-bakkie, wat deel is van Mchunu se begeleidingsvloot, op die N2-snelweg naby Zinkwazi gebots.
Mchunu, wat amper daagliks van Empangeni reis na afsprake en sy kantoor, was nie in die blouligbrigade tydens die botsing nie en het ʼn ondersoek na die voorval geëis. Mchunu sou Sondag besoek aflê by die families van die oorledenes.
Adv. Linda Zama, Mchunu se spesiale adviseur, sou hom ook Sondag inlig oor die vordering van die ondersoek na die ongeluk.
Lt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, het bevestig ʼn saak van strafbare manslag word ondersoek.