Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Nuuskommentaar: Nou maak Zuma dit maklik vir afgradering

$
0
0

Pres. Jacob Zuma. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Pres. Jacob Zuma. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Met ’n afvaardiging van Moody’s in die land om oor ’n afgradering te besluit, was pres. Jacob Zuma se optrede in die parlement toe hy vrae oor Nenegate moes beantwoord, nét die verkeerde medisyne. Hy het hom weer in ’n werklikheidsvreemde kokon ingespin van waar hy lustig sy eie idees tot nadeel van die land verkondig.

Vraetyd in die parlement wanneer pres. Jacob Zuma vrae moet beantwoord, het al ’n bepaalde karakter gekry – werklikheidsontkenning, blaamverplasing, feitefoute, vaaghede en ’n gegrinnik.

Gister se vraetyd was egter besonder belangrik omdat ’n span van Moody’s in Suid-Afrika is om ondersoek in te stel of die land nog nader aan rommelstatus, of sommer tot rommelstatus self, afgegradeer moet word.

Die rol wat die president in die uitslag gaan speel, is enorm, want Moody’s lê baie klem op ’n staat se institusionele vermoë, wat aspekte soos beleidsgetrouheid en konsekwentheid insluit.

Nou nie juis Zuma se sterkpunte nie.

Die groot en onmiddellike probleem is geloofwaardigheid. ’n President wat blatant kluitjies bak en dan deur sy ontplooide beskermengel beskerm word deur die vraesteller, die leier van die opposisie, uit te jaag is nog ’n liederlike klad.

Zuma het wel min of meer ’n halwe waarheid beet as hy sê die rand was voor Nenegate aan die val, maar dat minister Nene se “onverwagse” afdanking niks tot die tuimeling wat algemeen as 9/12 bekend geword het, bygedra het nie, is bietjie wild. In die proses maak hy van bykans elke gesaghebbende ekonoom in die land ’n leuenaar – nou nie juis die soort musiek wat ’n afgradering die hoof gaan bied nie.

Volgens die hoofekonoom van Stanlib, Kevin Lings, is die jongste gebeure sedert Nenegate eintlik net die jongste van ’n lang lys van verknoeide avonture. Hy verwag dat Moody’s Suid-Afrika tot een kerf bo rommelstatus sal afgradeer. Hy meen Moody’s sal dit uitlig dat Suid-Afrika se institusionele vermoë agteruit geboer het.

Volgens die berig in Fin24 het ’n ekonoom van KPMG, Christie Viljoen, gesê die jongste gebeure toon dat enigiets in die Suid-Afrikaanse politiek moontlik is. Veelseggend meen hy die enigste goeie ding wat hieruit kan voortspruit, is dat die land ’n nuwe leierskap kry.

Daar kan nie meer twyfel wees dat daar ’n groot verdeeldheid in die ANC is nie, met talle gesaghebbende LP’s en ander ANC-bekendes wat hul geloof in adjunkminister Mcebisi Jonas se integriteit openlik verklaar. Dis in skerp teenstelling met die minagtende wyse waarop Zuma gister in die parlement herhaaldelik na “Jonas” verwys het, eerder as die protokol-aanspreekvorm van “agbare”.

Zuma se ontkenning dat die afdanking van minister Nene tot die groot verliese van die rand en die slagting op die Effektebeurs gelei het, hou die gevaar in dat hy so ’n onverantwoordelike stap kan herhaal. Tans is daar ’n sterk aanduiding dat die gebeure van 9/12 juis keer dat Zuma verder met sy kabinet maak en breek, soos om van minister Pravin Gordhan ontslae te raak, en nou baie duidelik vir “Jonas” ook suur genoeg is om hom te pos. As Zuma werklik glo Nene se afdanking hou nie met 9/12 verband nie, wat verhinder hom om weer sy presidensiële magte na sy eie sinnigheid in te span; magte volgens die Grondwet wat hy gister mildelik onder sy teenstanders se neuse gevryf het.

Dit het al afgesaag geword om te sê in enige normale demokrasie sou Zuma lank reeds die trekpas gekry het, of sommer self geloop het. Die ongelukkige feit word net daagliks meer en meer onderstreep dat Suid-Afrika nié ’n gewone demokrasie is nie. Dis te verweef met patronaatskap, elemente van kleptokrasie, konstante uitdaging van die gesag van die howe, en deesdae terme soos Zumakrasie, Guptakrasie en Zuptakrasie.

Kortom, om van Zuma ontslae te raak sal tot ’n reuse-inploffing van bedenklike belange lei.

Algaande word die prentjie egter geskets dat Zuma gaan val as hy nie homself tot ’n soort seremoniële president reduseer nie. Zuma kan bykans enigiets in eie geledere vergeef word, maar skynbaar is sy Guptabande vir net te veel rolspelers in die ANC ’n té groot hap om gesluk te kry.

Tans lyk dit of Zuma vas glo dat hy ook hierdie krisis gaan oorleef, en steeds sal kan maak en breek soos hy wil.

Maar nie alle waarnemers is so seker nie, en daar is selfs diegene wat meen Zuma kan reeds die naweek nie meer president wees nie wanneer die NUK oor die kwessie moet besluit. Ander voorsien ’n langer proses, wat ongelukkig negatief op Moody’s se beoordeling gaan inwerk.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!