President Jacob Zuma het Donderdag vrae oor die Gupta-familie se inmenging in ministeriële aanstellings met ʼn giggel en ʼn vae ontkenning vermy.
Mmusi Maimane, leier van die Demokratiese Alliansie, het Zuma uitgevra oor adjunkminister van finansies, Mcebisi Jonas, se aantyging dat hy die pos van die minister aangebied is deur die welgestelde Indiëse familie voordat Nhlanhla Nene in Desember afgedank is.
“My vraag, mnr President: Het die Gupta-familie ooit aan enigiemand ʼn kabinetpos aangebied tydens jou termyn as president, of lieg minister Jonas? As hy nie lieg nie, is die president bereid om aanspreeklikheid te aanvaar vir die besluit en sal hy voor die mense van Suid-Afrika bedank?” wou Maimane weet.
Zuma het gelag en gesê: “Geagte Speaker, ek het Jonas as adjunkminister aangestel, dit is wat ek Jonas aangebied het. Ek het nooit die ministerie aan Jonas aangebied nie, dit is waarom hy adjunkminister is.” Hy het bygevoeg: “As Jonas sê [die pos] is deur die Guptas vir hom aangebied, dan moet julle vir die Guptas of vir Jonas vra. Moenie my vra nie. Waar is ek ter sprake? Ek het geen besigheid daarmee nie, absoluut geen besigheid nie.”
Die president het gesê die vraag moet aan die Guptas gestel word. “Ek is in beheer van die regering, ek is aangestel kragtens die Grondwet. Daar is geen minister hier wat deur die Guptas of enigiemand anders aangestel is nie. Ministers wat hier is, is deur my aangestel.”
Maimane het Donderdagoggend kriminele klagtes teen Zuma se seun, Duduzane Zuma, en die Gupta-familie aanhangig gemaak oor Jonas se bewerings. Hy is uit die vergadering geskop kort nadat hy die president gedaag het oor sy redes waarom hy Nene uit die sleutelpos verwyder het.
Sibongile Nkomo, LP van die Vryheidsparty, wou by Zuma weet of hy deur enigiemand beïnvloed is toe hy sy besluit geneem het om Nene af te dank.
“As ʼn minister geskuif of herontplooi moet word, is daar redes wat daartoe lei,” het Zuma geantwoord. “Ministers word nie verwyder of vervang of aangestel sonder redes nie. Daar is redes waarom minister Nene herontplooi moes word.
“Daardie redes is die redes van die regering, en toe Nene verwyder is, toe moes die pos gevul word, en dit is wat ek gedoen het, en dit spruit uit dit wat die regering doen en wat die besluitneming van die regering is. As daar enige invloed is op die manier wat die regering doen, kan dit slegs die regerende party wees.”
Volgens Zuma was die rand reeds besig om te verswak voor Nene afgedank is.
“Dit is nie die eerste keer wat die markte reageer wanneer ʼn minister aangestel of verwyder word nie,” het Zuma gesê.
Maimane het gou opgestaan om beswaar aan te teken teen Zuma se uitlating dat die rand reeds besig was om te verswak en gesê dit is “onwaar”. Maimane het bygevoeg Suid-Afrikaners moet die waarheid hoor.
Speaker Baleka Mbete het egter ingegryp en gewaarsku dat hy moet gaan sit. Maimane het bly praat en sy het hom gevra om die vergadering te verlaat, “omdat jy weier om saam te werk”. Maimane het reageer, “Nee, nee, nee” en die Speaker het hom beveel om die sitting te verlaat. Die hele DA-koukus het daarna vir die ministers geskree: “Julle is deur die Guptas aangestel, julle almal!” Die DA het daarna die vergadering verlaat.