Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Mbalula reageer op Fifa-bewerings

$
0
0

Sportminister Fikile Mbalula. Foto: Flickr/GovernmentZA

Sportminister Fikile Mbalula. Foto: Flickr/GovernmentZA

Fikile Mbalula, minister van sport, het Donderdag tydens ʼn mediakonferensie reageer op Fifa se bewering dat Suid-Afrika omkoopgeld betaal het om die Sokkerwêreldbeker aan te bied.

Mbalula het begin met die opmerking dat Suid-Afrika se aanbieding van die sokkerwêreldbeker die suksesvolste nog in Fifa se bestaan was. Hy het verder gesê die eisdokument wat Fifa ingedien het, bevat “plofbare teenstrydighede”. Volgens hom probeer Fifa die blaam verskuif. “Dit is uiters uniek in wêreldgeskiedenis dat ʼn organisasie teen homself draai.”

Hy het gesê Fifa se verklaring het skade van “monumentale omvang” aan Suid-Afrika aangerig en geëis Fifa moet die verklaring terugtrek. Mbalula het soos in die verlede volgehou die $10 miljoen se “omkoopgeld” is aan Noord- en Sentraal-Amerika en die Karibiese Eilande (Concacaf) betaal om Afrika se diaspora te ondersteun en vir die ontwikkeling van sokker.

“Ons glo dit is ʼn wettige program en ons sal nie daarvoor om verskoning vra nie.  Suid-Afrika het nie omkoopgeld betaal om die toernooi aan te bied nie. Ons het ʼn vergadering met Fifa versoek en sal die saak dringend met hulle bespreek.”

Volgens Mbalula het Fifa nog ʼn verklaring uitgereik waarin hulle ontken het Suid-Afrika het omkoopgeld betaal. “Ons het die geld betaal omdat dit vir ontwikkeling gebruik sou word. Ons het eers later gehoor gekom dit is nie daarvoor gebruik nie. Ons is uit die veld geslaan hieroor.”

Hy het gesê geen maatreëls is ingestel om op te volg of die geld gebruik is vir die doel waarvoor dit betaal is nie. “Dit is aan gevestigde instellings betaal. Dit is nie in ʼn tas oorhandig nie. Hierdie geld is ook lank na die bod- en stemproses, nadat die bod aan Suid-Afrika toegestaan is, eers uitbetaal.”

Mbalula het gesê enige omkopery moes voor die bodproses plaasgevind het. “Dit is diegene wat nou ondersoek en vervolg word, wat die bewerings maak. Dit is absurd om te sê ons steek iets weg. Dit was nie omkopery nie. Ek sê nog altyd vir joernaliste ek het nog nooit bewyse gesien dat Suid-Afrika skuldig is nie.”


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621