ʼn 23-jarige man is Dinsdag doodgeskok terwyl hy besig was om met ʼn hoekslyper te werk.
Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê die voorval het omstreeks 11:30 by ʼn huis in Bell Towerstraat in Pinetown, KwaZulu-Natal, plaasgevind.
“Die man was besig om aan die raamwerk van ʼn ou motor te sny, toe die hoekslyper ophou werk het. Hy het vasgestel daar is ʼn probleem met die kragprop en is doodgeskok toe hy probeer het om dit te herstel,” het Botha gesê.
Die man was reeds dood toe paramedici by die toneel opgedaag het. Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.