Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Solidariteit, AfriForum, ANC praat oor Vrystaat-kwessies

$
0
0
Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, en William Bulwana, sekretaris van die ANC in die Vrystaat (Foto aan Maroela Media verskaf)

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, en William Bulwana, sekretaris van die ANC in die Vrystaat (Foto aan Maroela Media verskaf)

Die Solidariteit Beweging het Vrydag in gesprek getree met die ANC-alliansie om knelpunte in die Vrystaat op te los.

Solidariteit, die burgerregteorganisasie AfriForum en die ANC-alliansie insluitend die vakbondfederasie Cosatu, die Suid-Afrikaanse Kommuniste Party (SAKP), die ANC-vroueliga en die Suid-Afrikaanse Nasionale Burgerlike Organisasie (Sanco) het vergader.

Die partye het saamgekom om die situasie by die Universiteit van die Vrystaat (UV) en die breër Suid-Afrikaanse brandpunte te bespreek.

Twee forums is gestig, naamlik ʼn korttermynforum vir die kwessie by die universiteit, en ʼn strategiese taakgroep. Die twee groepe gaan nou mandate kry om die proses verder te voer.

Volgens die Solidariteit Beweging was die gesprek robuus, maar opbouend. Alhoewel daar groot verskille was, is daar gesoek na gemene grond soos anti-geweld, verwerping van rassisme, verbintenis aan Suid-Afrika en wedersydse respek. Al die partye het hulself verbind tot verdere gesprekvoering.

“Hierdie is die begin van ‘n proses om met die ANC in die Vrystaat in gesprek te tree,” het Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, aan Maroela Media gesê. “Waar ons in Pretoria net die finale ooreenkoms bekend gemaak het, is hierdie die begin van ‘n soortgelyke proses. Soos die proses vorder, sal ons verdere besonderhede bekend maak.”

Maroela Media het vroeër berig verteenwoordigers van die ANC-alliansie en die Solidariteit Beweging het ook op 28 Februarie ʼn historiese ooreenkoms voorgelê vir die herstel van ’n vreedsame, stabiele en volhoubare akademiese program aan die Universiteit van Pretoria (UP). Die ooreenkoms het gevolg ná die reeks gewelddadige gebeure wat in Februarie tot die tydelike sluiting van UP gelei het.

Solidariteit, AfriForum en die ANC-alliansie het ook onderneem om verder gesprek te voer oor die geweld en ontwrigting, die beskadiging van standbeelde en die hantering van taal by die Universiteit van die Vrystaat. Die partye het hulself ook verbind tot verdere gesprekvoering op ‘n forum wat vir die doel saamgestel sal word.

“Die beeld wat Suid-Afrika van die Universiteit van die Vrystaat het, is studente wat ‘n standbeeld aan die brand steek en stukkend kap, geweld tussen groepe en vandalisme. Ongelukkig word dit die beeld van die Vrystaat ook,” het Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, aan Maroela Media gesê. “Ek is ‘n seun van die Vrystaat en my ervaring van die provinsie is mense wat respek het vir mekaar. Mense praat Sotho en Afrikaans met mekaar en daar bestaan ‘n gemoedelikheid. Die Vrystaat-kultuur is oorskadu deur die beelde van geweld op Kovsies. In die gesprekke tussen die Solidariteit Beweging en die ANC-alliansie het ons gesoek na die Vrystaat wat ek ken. Ons het klem daarop gelê dat ons mekaar beter moet leer ken en dat ons nie mag ophou praat nie, al is die verskille tussen ons groot en die spanning soms hoog.”

William Bulwana, provinsiale sekretaris van die ANC, was nie dadelik beskikbaar vir kommentaar nie.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621