Die raad van die Universiteit van die Vrystaat het Vrydag ʼn nuwe taalbeleid aanvaar tydens ʼn vergadering by sy Qwaqwa-kampus.
Volgens die nuwe beleid, wat deur die meerderheid van die raadslede goedgekeur is, verbind die universiteit hom tot ʼn taalryke omgewing wat veeltaligheid betref, met spesifieke fokus op Afrikaans, Sesotho, isiZulu en ander tale wat op die drie kampusse in Bloemfontein en Qwaqwa verteenwoordig word.
“Gebaseer op die kernwaardes van inklusiwiteit en veeltaligheid, sal Engels die primêre onderrigtaal wees op voorgraadse en nagraadse vlak,” het Lacea Loader, woordvoerder van die universiteit, gesê. “Veeltaligheid sal onder andere deur ʼn uitgebreide onderrigstelsel, wat spesifiek vir eerstejaars ontwerp is, bevorder word.”
Volgens die universiteit sal parallelmediumonderrig in professionele programme, soos onderwysersopleiding en teologiestudente, wat by tradisionele Afrikaanse kerke in die bediening wil tree, en daar ʼn duidelike behoefte in die mark bestaan, voortgesit word. Dit geld vir parallelmediumonderrig in Engels-Afrikaans en Sesotho-Zulu. “Hierdie reëling moet nie die waardes van inklusiwiteit en diversiteit van die universiteit ondermyn nie.”
Loader het bevestig die primêre formele taal van die universiteit se administrasie sal in Engels plaasvind, met voldoende aanpasbaarheid om uiteindelik veeltaligheid dwarsoor die universiteit in te stel.
“Formele studentelewebedrywighede sal in Engels plaasvind, alhoewel veeltaligheid in sosiale interaksies aangemoedig word,” het Loader gesê.
Regter Ian van der Merwe, voorsitter van die UV-raad, het gesê dit is ʼn groot stap vorentoe vir die universiteit. “Ek loof die raad vir die konstruktiewe en positiewe manier waarop die gesprekke plaasgevind het.”
Die universiteit het bevestig hy bly verbind tot sy beleid om Afrikaans as ʼn akademiese taal te bevorder, Sesotho en isiZulu as hoëronderwystaal binne die konteks van die behoeftes van die universiteit se verskillende kampus te ontwikkel, en gebaretaal en Braille te erken en te bevorder.
“Die goedkeuring van ʼn nuwe taalbeleid kom ná ʼn mandaat op 5 Junie 2015 aan die raad gegee is om die instansie se taalbeleid te hersien,” het Loader bygevoeg.
Die nuwe taalbeleid word vanaf Januarie 2017 in werking gestel.
Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het aan Maroela Media gesê die besluit van die universiteit is radikaal. “Dit is baie wyer as taal, maar totale kultuurverandering,” het hy gesê. “Die senaat met al die Afrikaanse vanne moet nie dink dit is net Afrikaans wat getransformeer gaan word nie. Dit gaan ook Afrikaners wees. Die Bothas, Van der Merwes en Venters wat vir Engels ter wille van volhoubare stabiliteit gestem het, gaan nie deel van daardie volhoubaarheid wees nie. Baie van die senaatslede wat vir die besluit gestem het, is ‘walhalers’ wat bloot die aftreewal wil haal voor die transformasie van mense begin. Hulle onbaatsugtige opoffering vir transformasie is die drome en loopbane van jong Afrikaanse akademici.”
Volgens Hermann is die verwydering van Afrikaans nie die einde van transformasie nie, maar ‘n voorwaarde vir die begin van transformasie. “Kovsies se radikale transformasie en ontwrigting begin nou eers. Die universiteit gaan sonder Afrikaans en stabiliteit wees.”