Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het gesê Simphiwe Prins Payi het Maandag ʼn klag van motorkaping by die polisie aanhangig gemaak. Hy het beweer hy is Sondagaand by ʼn kruising op Gailweg deur kapers oorval, met ʼn vuurwapen aangehou en uit die motor gedwing.
“Nadat die polisie ondersoek ingestel het, het ons vasgestel die voorval het nooit gebeur nie, aangesien die beeldmateriaal van veiligheidskameras by die spesifieke kruising niks gewys het nie,” het Naidu gesê.
Intussen is Payi se voertuig laat Sondagnag verlate op die N2 naby Stanfordweg gevind, met die sleutels steeds in die aansitter. Die voertuig is deur die polisie geskut. “Die ondersoekspan vermoed Payi het uit sy voertuig geklim, maar toe vergeet waar hy parkeer het,” het Naidu gesê.
“Nadat hy ingelig is dat die voertuig reeds in die polisie se besit was, het hy probeer om die saak terug te trek. Hy is toe op aanklag van dwarsboming van die gereg in hegtenis geneem.”
Payi is op borgtog van R200 vrygelaat. Hy sal weer op 30 Maart in die hof verskyn.