Prof. Melissa Steyn, wat die dinkskrum gereël het, het gesê die idee van die dialoog oor die Afrikaner is nie om enige standpunt in te neem nie, maar eerder ʼn gesprek oor Afrikanerskap aan die gang te sit.
Sy het Afrikaners in twee weersprekende maniere opgesom: die eerste is iemand wat weens uiterse vrees hulself isoleer en die tweede is iemand wat baie dapper is. “Die Afrikaner moet daardie dapperheid gebruik om hul vrese te besweer,” het sy gesê.
Aan die een kant het ʼn junior lektor van Unisa sye mening gegee oor waarom Afrikaans moet val en aan die ander kant het die Afrikaanssprekende EFF-lid oor die teorie van gay-wees onder Afrikaner-mans geargumenteer.
“Die idee van ʼn Afrikaner-identiteit kan nie in Suid-Afrika werk nie, want dit is nie deel van Afrika nie,” het Terblanche Delport, junior lektor van Unisa se departement filosofie, gesê. “Dit is polities en kultureel oneties en onaanvaarbaar.”
In sy betoog dat “Afrikaans moet val” reken hy vandag se eise is nog net so geldig as wat dit in 1976 tydens die Soweto-onluste was. “Veertig jaar later het die fokus van die vyand nog nie verander nie. Die stryd is nog dieselfde en AfriForum en die verregses verdedig steeds hul ideologie op die rugbyvelde.”
Prof. Leon Wessels, direkteur van die Menseregte-sentrum aan die Universiteit van die Vrystaat, het in sy openingstoespraak gesê die stryd vir die behoud van Afrikaans sal nie in die geregshowe gevoer kan word nie. Volgens hom kan dit net bly voortleef met die hulp van die openbare mening.
Hy het gesê mense luister mense nie na mekaar nie en die enigste manier om in die toekoms te lewe, is om die verlede te verstaan. Hy waarsku die geduld van mense op grondvlak wat sonder lopende water en behoorlike behuising is, raak op.
Wesels beskou homself as ʼn Euro-Afrikaan. Hy het bygevoeg die kwessies wat die Afrikaner nou moet hanteer, spruit voort vanuit ʼn baie kritieke situasie. “Ek wou nog altyd die teregstellings van Jopie Fourie en Solomon Mahlangu in dieselfde asem in konteks met mense bespreek, maar die geleentheid het hom nog nie voorgedoen nie.”
Die voormalige ambassadeur in Ierland en gewese vrou van een van dr. Hendrik Verwoerd se kleinseuns, Melanie Verwoerd, het gesê mens kry ‘Steve Hofmeyr-Afrikaners, Orania-Afrikaners en ANC-Afrikaners’. “Selfs in Orania is daar tweespalt tussen die verregses en die Volkstaters,” sê sy.
Prof. Christi van der Westhuizen van die Universiteit van Pretoria het tot die gevolgtrekking gekom die bron van alle kwaad en die saadjie van apartheid is in 1948 geplant toe die “leeu van die Noorde”, adv. JG Strijdom, die term eendersdenkendheid uitgedink het. Enige “andersdenkendes” is as verraaiers beskou.
“Die Afrikaners wat dapper genoeg was om destyds andersdenkend te wees, is die helde van vandag. Daardie volksverraaiers het vir ons die pad aangewys na sosiale geregtigheid,” het sy gesê. “Daar is nou weer ernstige druk op die Afrikaner om aan te pas.”
Jaco Oelofse, omstrede EFF-lid vanweë sy onlangse uitsprake oor Afrikaners en gays, het gekla die patriargale manlikheid in die Afrikaner-gemeenskap onderdruk die gay-gemeenskap binne dié gemeenskap. Oelofse, wat self gay is, het verder uitgewei oor die ‘omvang van wandade en eksperimente wat die vorige regering op gays uitgevoer het, wat tot die verminking van duisende mense gelei het’.
“Die Afrikaner se identiteit is totaal uitgedien,” het hy gesê. “Dit was die Afrikaner se manlikheid wat die Afrikaner-identiteit geskep het.”
Matriekleerlinge van die Afrikaanse Hoër Meisieskool en Hoërskool Garsfontein het ook aan die gesprek deelgeneem.