Die Tshwane-nooddienste is op ʼn hoë gereedheidsgrondslag geplaas nadat die Suid-Afrikaanse Weerdiens gewaarsku het dat swaar reënval moontlik kitsvloede in Pretoria kan veroorsaak.
“Swaar reënval met die moontlikheid van kitsvloede word vanmiddag in sommige dele van Gauteng, veral in Pretoria, verwag. Volgens die voorspelling sal die weerstoestande tot die naweek voortduur,” het Johan Pieterse, woordvoerder van die nooddienste, gesê.
Pieterse het gesê die nooddienste monitor die situasie in alle gebiede wat geneig is om kitsvloede te ervaar tydens swaar reënval.
“Inwoners word versoek om alle laagliggende gebiede te vermy wanneer deurlopende reënval ervaar word. Motoriste word gewaarsku om nie op paaie te ry wat heeltemal met water bedek is en waarvan die padoppervlakte nie sigbaar is nie.”
Die publiek kan noodgevalle aanmeld by 10177 of 012 310 6300/6400