WAARSKUWING: Die foto’s in die berig is uiters grafies van aard en kan kinders en sensitiewe lesers ontstel.
Gru-foto’s van ʼn vrou wat Saterdag vermoedelik naby die Gautrein-stasie in Centurion aangeval is, word wyd op sosiale media versprei. Die egtheid daarvan word egter in twyfel getrek aangesien die polisie dit nie kan bevestig nie. Maroela Media het met die slagoffer gepraat.
Joanne Atkin (53), ʼn ma en inwoner van Midrand, het Saterdag by Midrand op die Gautrein geklim op pad na Centurion Mall. “Ek het drie horlosies by my gehad wat ek by ʼn winkel daar wou laat herstel het, en terselfdertyd dit doen waarmee vroue goed is – inkopies doen,” het Atkin Dinsdag aan Maroela Media gesê.
Sy het gesê sy het omstreeks 12:45 by die Centurion-stasie afgeklim en besluit om na die winkelsentrum te stap, aangesien die busdiens nie Saterdag beskikbaar was nie. Sy het links in West-rylaan gedraai en oor die pad gestap. Sy is glo naby ʼn oop stukie veld tussen die Gautrein-stasie en Momentum-gebou deur ʼn man genader.
“Die man het vriendelik gelyk. Ek het gedink dit is ʼn munisipale werker, want hy het ʼn blou oorpak aangehad. Ek wou hom nog komplimenteer oor die goeie werk wat hulle [die munisipaliteit] doen, want die stuk veld waar ek toe verbygestap het, was so goed versorg. Die man het in my rigting gestap en iets roois uitgehaal. Ek het eers gedink dit is ʼn selfoon. Hy het in ʼn vriendelike luim in Afrikaans vir my gesê ‘ek soek jou handsak’. Ek het in ʼn vriendelike luim geantwoord, ‘nee, ek gaan dit nie vir jou gee nie’. Ewe skielik val hy my aan met die rooi ding wat in sy hand was – ʼn groot veeldoelige knipmes.”
Atkin het om hulp geskreeu terwyl die man haar verskeie kere in haar linkerarm gesteek het. Sy het haar greep op haar handsak laat verslap, en die man het rustig daarmee weggestap. Atkin se beursie, selfoon, medikasie, sonbril, ʼn sambreel en die drie horlosies was in die handsak. Atkin het gesê sy maak net van haar kaart gebruik, en dat daar geen kontant in haar beursie was nie.
Omstanders het Atkin te hulp gesnel en kort daarna het ʼn motor stilgehou en haar na die Unitas-hospitaal gehaas waar sy dadelik opgeneem is. “Ek kan niks verder onthou vandat ek by die hospitaal ingestap het totdat ek in die saal wakker geword het nie. Ek kan net die erge pyn onthou, asook dat ek goeie behandeling ontvang het.”
Atkin is Sondag ontslaan. Sy het vier erge steekwonde aan haar linkerarm opgedoen. Sy het spier- en senuweeskade. Sy het gehoor dat die dokters haar arm sou moes amputeer as hulle die weefsel nie kon heg nie. Haar arm is toegebind en in ʼn slinger. Sy moet weer op 18 Maart vir ʼn opvolgondersoek gaan.
Verwarring oor die egtheid van die voorval, wat wyd op sosiale media gedeel is om mense te waarsku, is in twyfel getrek nadat die Lyttelton-polisie aan die media terugvoer gegee het dat daar nie ʼn voorval aangemeld is nie.
Atkin het gesê sy weet nie wat die hospitaal se prosedure is nie, maar sy was nadat sy ontslaan is te getraumatiseerd en onder medikasie om dit by die Lyttelton-polisie aan te meld. Sy is egter Maandag na die Midrand-polisiestasie toe, maar hulle wou haar glo nie help nie, alvorens sy ʼn J88-vorm van die hospitaal verkry het.
“Ek het steeds pyn, neem medikasie en kan nie my linkerarm gebruik nie. Ek is afhanklik van vriende wat tyd van hul werk moet afvat om my na die polisiestasie te neem. Dus, soos ons hier praat, is die saak nog steeds nie aangemeld nie,” het sy gefrustreerd gesê.
Die publiek het ook verskeie navrae aan die Gautrein-bestuur gerig aangesien die aanvanklike waarskuwing die Gautrein-stasie as verwysingspunt gebruik het. Die Gautrein-personeel het daarop reageer en gesê dat hulle nie bewus is van die voorval nie, omdat dit nie in of [direk] buite die stasie plaasgevind het nie, en daar geen bewys of verslag daarvan by die polisie is nie.
“Ek kan bevestig dat die beweerde voorval nie by Gautrein se Centurion-stasie plaasgevind het nie,” het Kesagee Nayager Dinsdag aan Maroela Media gesê. Die Lyttelton-polisie se woordvoerder, ao. Hero Gumbu, het gesê hy kan nie kommentaar lewer sonder ʼn saaknommer nie.
Robert Jordaan, Unitas se bestuurder, het Dinsdag aan Maroela Media bevestig dat die vrou in die hospitaal behandel is. Hy het gesê die hospitaal is nie in staat om elke misdaadverwante voorval waarmee hulle te doen het by die polisie aan te meld nie. “Ons sal wel sekere voorvalle, veral as daar kinders by betrokke is, aanmeld. In ander voorvalle voel ons dit is die pasiënt of hul families se plig om self die saak aan te meld,” het Jordaan gesê.
Jordaan het bevestig dat die J88-vorm aangevra is, en dat dit aan die pasiënt gestuur sal word.
Hugo Erasmus, voorsitter van die Lyttelton sekor 1-GPF, het onderneem om te sorg dat haar saak aanhangig gemaak en verder ondersoek word.
WAARSKUWING: Die foto’s onderaan die berig is uiters grafies van aard. Maroela Media het die foto’s digitaal gemanipuleer maar dit is steeds baie grafies en kan kinders en sensitiewe lesers ontstel.

