
Voertuie is op 7 Maart 2016 aan die brand gesteek tydens Isithebe-betogings in KwaZulu-Natal Foto: @ECR_Newswatch, Twitter
Altesaam 120 persone is in hegtenis geneem in verband met gewelddadige betogings in Isithebe, KwaZulu-Natal nadat voertuie en vier fabrieke aan die brand gesteek is.
“Nog persone kan moontlik in hegtenis geneem word, aangesien die polisie steeds die situasie monitor,” het maj. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, gesê. “Nog mannekrag is ontplooi.”
Die betogings het Sondagaand begin en openbare polisiëringseenhede is van Ulundi, Empangeni en Newcastle ontplooi.
“Vier fabrieke, ʼn vragmotor, twee motors en vyf vraghouers is Maandagoggend aan die brand gesteek,” het Zwane bygevoeg. “Polisievoertuie is ook beskadig en rekenaars is uit ʼn kantoor by ʼn fabriek gesteel. Die polisie het reeds twee van die rekenaars gevind.”
Zwane het vroeër gesê lede van die betogende gemeenskappe kla oor die herbenoeming van die oudburgemeester vir die komende verkiesing.
Paul Herbst, bedryfsbestuurder van IPSS Medical Rescue, het gesê ʼn paar mense het ligte beserings opgedoen nadat klippe gegooi is.
Isithebe is naby Mandeni, ongeveer 90 km suid van Richardsbaai.
Zwane het gesê die persone wat in hegtenis geneem is, staan tereg op aanklag van openbare geweld, brandstigting en opsetlike saakbeskadiging.