Die Krugerwildtuin en verskeie vennote gaan miljoen rande in tegnologie, waaronder hommeltuie, belê om stropers in die wildtuin op te spoor.
Volgens Otto Werdmuller Von Elgg, uitvoerende hoof van Unmanned Aerial Vehicle and Drone Solutions, sal sowat R16 miljoen hiervoor bewillig word. Werdmuller Von Elgg het gesê die hommeltuie gaan in die volgende 12 maande ingespan word om die doeltreffendheid daarvan te toets in die geveg teen stropery.
“Die tuie is onbeman en kan van enige plek in die park van ʼn afstand af beheer word. Dit kan vir sowat twee en ʼn halfuur aaneen rondvlieg om die gebied te deursoek vir stropers,” het Werdmuller Von Elgg Sondag aan die media gesê.
Hy het gesê Unmanned Aerial Vehicle and Drone Solutions is die eerste organisasie wat ʼn kommersiële lisensie bekom het om hommeltuie te bedryf. Dit gee hulle toestemming om hommeltuie verby die siglyn te bedryf.
“Dié tegnologie is steeds in ʼn vroeë stadium en sal na verwagting aansienlik verbeter. Dit is soos die selfoonbedryf, daar is dinge waaraan ons nog nie eens gedink het nie. Hommeltuie word reeds kleiner, ligter en goedkoper,” het hy gesê.