Ten minste ses mense is dood en 60 beseer nadat ʼn bus Sondagmiddag op die R528 in die Magoebaskloof-gebied, Limpopo, omgeslaan het.
Pieter Rossouw, woordvoerder van ER24, het gesê dit is nog nie duidelik wat die ongeluk veroorsaak het nie, maar ander voertuie was nie betrokke nie. Sommige van die passasiers is in ʼn kritieke toestand na ʼn hospitaal gehaas, terwyl ander minder ernstige beserings opgedoen het.
Kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, het die voorval bevestig en gesê, volgens onbevestigde berigte, het die dodetal reeds tot 10 gestyg. Die presiese getal oorledenes sal later bevestig word.
Otto het gesê die pad is tydelik gesluit en motoriste word aangeraai om van alternatiewe roetes gebruik te maak.
Die polisie is ook tans op die toneel om die ongeluk te ondersoek.