Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Nuuskommentaar: Zuma veg terug

$
0
0
Pres. Jacob Zuma. Foto: Flickr/Governmentza/GCIS

Pres. Jacob Zuma. Foto: Flickr/Governmentza/GCIS

Daar kan min twyfel wees dat pres. Jacob Zuma se vlerke ná die Nene-debakel ietwat geknip is, maar dis ook duidelik dat dit Zuma nie welgeval nie. Hy veg verbete terug en begin sy magsbasis konsolideer. Sy toespraak gister voor die Huis van Tradisionele Leiers waarin hy die afsnydatum vir grondeise aansienlik wil terugskuif, is duidelik deel hiervan.

Is pres. Jacob Zuma se omstrede toespraak oor die grondkwessie in die Huis van Tradisionele Leiers ’n deursigtige poging om weer ’n magsgreep op die ANC te verkry?

Die afgelope aantal jare is die versugting gereeld in rubrieke uitgespreek dat die ANC pres. Jacob Zuma so sou inperk dat hy eintlik net ’n simboliese of seremoniële leier word, terwyl die adjunk-president as ’n soort eerste minister die werklike regeringshoof sou wees. Dié versugting het gewoonlik gevolg nadat Zuma weer iets skreiends kwytgeraak het wat ’n reuse-verleentheid vir hom en die land was.

Maar nie genoegsaam vir die ANC nie.

Kort-kort was daar inderdaad tekens dat dit wel gebeur, maar soos klokslag het Zuma weer iewers ’n harde landing gemaak waaruit dit duidelik was dat hy steeds nommer een, en nie nommer zero is nie.

Dié proses is met groter intensiteit herhaal ná die Nene-debakel. Daar word steeds moeitevol gerekonstrueer oor wat werklik agter die skerms gebeur het, en hoe dit gekom het dat mnr. Pravin Gordhan weer minister van finansies geword het, nie baie lank nie nadat Zuma hom in ’n portefeulje ontplooi het wat enige minister sou laat struikel – om na die land se spartelende munisipaliteite om te sien.

Duidelik is Zuma nukkerig oor die afloop van die Nene-debakel.

Die interessantheid is dat dit lyk of die ANC Zuma ongeveer enigiets veroorloof en vergeef, maar nié sy Gupta-bande nie. Die (kortstondige) aanstelling van Des van Rooyen as nuwe minister van finansies het, afgesien daarvan dat die plaaslike en wêreldmarkte skerp negatief reageer het, ’n blywende duik gekry toe berig is (waar of onwaar) dat Van Rooyen se aanstelling twee Gupta-manne uitsonderlike magte in die tesourie sou gee.

Bykans sedert Gordhan se heraanstelling is die Valke soos lastige vlieë om sy kop, terwyl hy te make het met ’n hoof van die Inkomstediens wat hom skynbaar openlik rysmier. Die ANC se antwoord is dat “Zuma die kwessie korrek bestuur”. Dus, Zuma se hand is duidelik in die gure gebeure.

Kortom, as Zuma se vlerke geknip is, is dit met knorrigheid begroet.

Intussen lyk dit of die ANC se hoofsweep in die parlement as ambassadeur in Duitsland herontplooi word omdat hy nie sy posisie genoegsaam gebruik het om “Zuma bashing”-debatte af te weer nie.

Zuma het dus nog spierkrag, maar sy argwaan met Gordhan word op hok gehou met die wete dat as hy wéér met Gordhan se portefeulje gaan foeter gaan die Nene-debakel soos ’n kinderspeletjie daarteen lyk. Zuma moet nukkerig besef dat hy wat Gordhan betref, deur die realiteit gesnoeker is.

Gordhan sal dan maar op ander maniere ondergrawe word.

Intussen probeer die president sy magsbasis versterk. Met die DA se mosie van wantroue het 52 ANC-lede nie opgedaag om die president te steun nie. Dit sluit groot name soos Winnie Madikizela-Mandela in, en kan nie maar aan die “normale” afwesigheid van ANC-LP’s toegeskryf word nie.

Sedert Zuma se bewindsaanvaarding het hy die land se swart tradisionele leiers sterk agter hom gekonsolideer. Goeie “salarisse” en in sommige gevalle sommer baie goeie salarisse of toekennings vir koninklike paleise, het baie hiertoe bygedra.

Deur die tradisionele leiers in die sakkie te hê, verseker Zuma groot plattelandse steun. Hy gebruik die grondkwessie as vertrekpunt, iets waarmee hy nie by die tradisionele leiers kan verloor nie.

Zuma wil die afsnytyd vir grondeise van 1913 na skynbaar 1800 terugskuif. (Die gedagte is nie nuut nie.) Zuma se kennis van aardrykskunde is onlangs as baie swak bewys, maar sy kennis van die geskiedenis is skynbaar nie veel beter nie, en minstens erg omstrede. Hy bekyk die kwessie openlik deur ’n rassebril deur na homself as die seun van ’n swart man te verwys.

Voorheen het hy al bewys dat sy kennis oor grondsake besonder swak is deur te meld dat swart mense met die “droë en onvrugbare” grond oorgebly het. Enige klimaatkaart wys dit as bog uit. Hy hou skynbaar by hierdie wysie.

Hy het nou herhaal dat grond welvaart beteken, iets wat die praktyk dikwels anders uitwys. Hy hoef maar net te kyk hoeveel plase is weekliks in landboutydskrifte in die mark. Die droogte ontgaan hom blykbaar ook.

Dit is tog interessant dat hy 1800 as keerdatum in gedagte het. As die datum veel verder teruggeskuif word, sou die KhoiSan op alle grond in swart besit kon aanspraak maak, Nkandla inkluis.

Zuma het nietemin ’n gewilde tema gekies om sy magsbasis te begin herbou. Opnames toon dat ongeveer 80% van swart mense glo wit mense het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel. (Al hoe meer wit mense begin ook so dink.) Die ad hoc-komitee oor grondbesit beskryf dit weer as ’n groot leuen.

Die enigste geluk is dat Zuma dit in sy toespraak ook duidelik gemaak het dat hy binne grondwetlike perke wil bly, iets wat in die verlede nie sy sterkpunt was nie.

Intussen hang twee sake oor sy kop – die sogenaamde spioenasiebande waaroor die hooggeregshof uitspraak moet gee, en die Nkandla-saak waaroor die grondwetlike hof se uitspraak afgewag word.

Maar wie dink Zuma gaan sonder meer die aftog blaas en ’n seremoniële president wees, het dit mis.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!