
Argieffoto
Die video volg onderaan die berig.
Die polisie het gesê hy dra kennis van ʼn video wat die ronde op Facebook doen waarin ʼn beampte glo ʼn jong vrou van Pretoria se foon in ʼn polisiestasie uit haar hande klap.
Die vrou, Jeanevie Swart (19), het Sondag die video op Facebook gelaai nadat sy ná ʼn traumatiese padwoede-voorval glo nie die nodige ondersteuning by die Brooklyn-polisiestasie in Pretoria ontvang het nie.
Swart het Maandag aan Maroela Media gesê sy was Vrydag in haar ma, Monique, se motor om vir hulle middagete te gaan koop.
“Ek en my ma werk saam. Ek was omstreeks 12:00 in Lynwoodweg toe ek kwansuis voor ʼn vrou in ʼn bakkie ingery het,” het Swart gesê.
Sy het gesê daar was ʼn ouer vrou en ʼn kind in die bakkie. “Die vrou, ek skat haar in haar 40’s, het vir my toeter gedruk en tekens gewys. Ek weet nie hoekom sy kwaad was nie, want daar was genoeg afstand tussen ons toe ek van bane verwissel het.”
Die vrou in die bakkie het glo verby Swart gejaag en voor haar ingery. Sy het glo probeer om Swart se motor van die pad af te druk en het die heeltyd voor haar gery en remme aangeslaan.
“Dit was vir my vreeslik. Ek wou net verby haar kom, maar sy het my die heeltyd met haar motor verhoed om verby te kom. In ʼn stadium was daar spasie en ek het probeer verby ry, toe stamp sy my ma se motor met opset.”
Swart het tot by ʼn nabygeleë Engen-vulstasie gery en daar probeer om haar ma te bel.
“Die ouer vrou, ek vermoed dit is die bestuurder se ma, het toe na my toe gestap en my uit die motor geruk. Sy het my rondgestamp, geruk en gesê sy gaan my doodmaak want ek is ʼn wit b***h. My foon het onder die passasiersitplek beland en ek het by ʼn ander motoris om hulp gaan aanklop om my ma te bel. Die vrou het toe twee van my ma se bankkaarte wat in die motor was gegryp en weggery.”
ʼn Getraumatiseerde Swart is direk daarna na die Brooklyn-polisiestasie waar haar ma vir haar gewag het. Die twee vroue in die bakkie was glo reeds by die polisiestasie. ʼn Beampte by wie sy onderskeidelik die ongeluk, aanranding, en diefstal van die kaarte wou rapporteer het glo geweier om haar te help. Swart sr. se twee kaarte het na bewering op dié beampte se tafel gelê.
“Ek het ʼn video op my selfoon begin neem van die beampte wat geweier het om my te help, toe klap hy my telefoon uit my hand uit.”
Swart en haar ma het dit nie daar gelaat nie en het by die Brooklyn-polisiestasie gebly totdat hulle uiteindelik deur iemand bygestaan is. Hulle het omstreeks 16:00 die stasie verlaat en later ʼn saaknommer gekry.
Kapt. Colette Weilbach, woordvoerder van die Brooklyn-polisiestasie, het by navraag aan Maroela Media gesê die stasie se bestuur dra kennis van die voorval en het ʼn ondersoek van stapel gestuur.
“ʼn Senior beampte het die vrou ná die voorval bygestaan toe sy dit aangemeld het. Die klaer het ook onder meer ʼn aanrandingsaak teen een van die ander vroue oopgemaak, wat ondersoek word,” het Weilbach gesê.