Herman Esterhuizen, woordvoerder van die UJ, het in ʼn verklaring gesê bewerings van die bedrogspul, waarby ʼn voormalige lid van die Studenteraad (SR) en ander onbekende mense glo betrokke was, het onlangs onder hul aandag gekom.
“Die ondersoek volg nadat mediaberigte beweer het dat sekere mense voornemende studente bedrieg het deur hulle te vra om geld te betaal om te mag registreer,” het Esterhuizen gesê.
“Die universiteit beskou hierdie bewerings in ʼn baie ernstige lig. Afgesien van ʼn interne ondersoek na die saak, het die universiteit ook die polisie gevra om die saak te ondersoek sodat diegene wat betrokke was by die bedrogspul aan die pen kan ry,” het hy gesê.
Esterhuizen wou nie die naam bekendmaak van die voormalige SR-student wat daarby betrokke was nie.
In Februarie het UJ gesê dat 43 000 studente vir die nuwe akademiese jaar geregistreer het.