Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Radioveteraan Fanie Smit oorlede

$
0
0

Fanie Smit. Foto: Facebook via Monitor en Spektrum

Fanie Smit. Foto: Facebook via Monitor en Spektrum

Die radioveteraan Fanie Smit is Woensdag in die ouderdom van 80 oorlede.

Die Afrikaanse radiostasie RSG, waar Smit jare lank die program Loof die Here aangebied het, het die nuus op hul Facebook-blad bevestig. Smit is glo aan kanker oorlede.

Smit het ʼn lang verbintenis met radio gehad. Nadat hy in 1963 sy studie in teologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) voltooi het, was hy vier jaar lank verbonde aan die NG Kerk se Sendingaksie in Malawi, waar hy behulpsaam was met die vervaardiging van godsdienstige programme vir die inheemse kerk.

Volgens RSG se webwerf was Smit die eerste regisseur by TV1 se nuutgestigte departement vir godsdienstige programme. “Afgesien van die gereelde formele programme, was hy ook verantwoordelik vir TV-reekse soos Bybel-ABC, Op die Voetspore van Christus, Akko – Spieëlbeeld van die Beskawing en ander dokumentêre programme.” Hy het ook as vryskutregisseur verskeie reekse vir TV2 en TV3 vervaardig.

In Februarie 1972 het hy met sy vryskutprogram Alle Volke Loof die Here begin. Sedert 1996 word die program onder die titel Loof die Here op RSG uitgesaai.

Mercia Eksteen, woordvoerder van die ATKV, het in ‘n verklaring gesê hulle het met leedwese kennis geneem van Smit se afsterwe. “Fanie sal onthou word vir die wyse waarop hy Afrikaanssprekendes se kennis en waardering van gewyde koorsang verruim het deur middel van die radioprogram Loof die Here,” het sy gesê.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621