“Dit is ʼn baie hartseer storie. Ek wil hê Swartz moet lewenslank tronk toe gaan sonder die opsie van parool,” het Louw buite die Wes-Kaapse hoofgeregshof gesê nadat finale argumente aangehoor is in die saak teen Aljar Swartz.
Louw het sy seun, Lee Adams, beskryf as ʼn vriendelike en liefdevolle kind wat hy elke dag mis. Adams se suster het op die trappe buite die hof gesit en huil en was te emosioneel om die media te woord te staan.
Swartz het die tiener glo in 2013 in Ravensmead onthoof om die liggaamsdele aan ʼn sangoma te verkoop. Carine Theunissen, die staatsaanklaer, het aan die hof gesê Swartz het sowat ʼn week gelede ʼn “ommekeer” gemaak toe hy erken het dat hy Adams vermoor en onthoof het.
Swartz het in sy bekentenis gesê hy het Adams op 17 Oktober 2013 gewurg en toe verskeie kere met ʼn mes gesteek voordat hy hom onthoof het. ʼn Veiligheidswag het Adams se liggaam naby ʼn skool gevind terwyl sy kop later in ʼn vlak graf in die beskuldigde se tuin gevind is.
Swartz wou glo Adams se kop vir R5 000 aan ʼn sangoma verkoop. Swartz het aangevoer dat hy ʼn satanis was ten tyde van die moord. Theunissen het dit egter in twyfel getrek en gesê daar was geen tekens van ʼn sataniese ritueel nie.
Regter Elize Steyn het die saak tot 10 Maart uitgestel vir uitspraak.