Die Vryheidsfront Plus het Dinsdag gesê die SAUK se Afrikaanse radiostasie, Radio Sonder Grense, het sy leier verbied om verder deel te neem aan Lynette Francis se program Praat Saam.
Dr. Pieter Mulder het glo van tyd tot tyd ingeskakel en aan die inbelprogram deelgeneem.
Mulder beskryf dié verbod as blatante sensorskap, gedienstigheid van die openbare uitsaaier aan die ANC-regering en ʼn oortreding van die SAUK se redaksionele beleid. “Dr. Mulder gaan die saak by die parlementêre portefeuljekomitee opper en ʼn klagte by die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) teen die SAUK indien,” lui ʼn verklaring wat deur die politieke party uitgereik is. Volgens Mulder oortree die SAUK sy lisensievoorwaardes asook sy eie redaksionele beleid.
In ʼn skrywe van die SAUK aan Mulder word glo verduidelik dat daar ʼn versoek van bo is dat in die lig van die moontlike verkiesing, party-politieke ampsdraers nie verder op inbelprogramme geakkommodeer moet word nie.
Mulder het gesê sonder ʼn volledige lys van alle politieke ampsdraers by elke inbelprogram in Suid-Afrika is dit nie moontlik om so ʼn opdrag uit te voer nie.
“In die praktyk word daar dan net teen sekere politieke partye en individue soos ekself gediskrimineer. Ons betaal almal lisensies ten einde dit vir die openbare uitsaaier moontlik te maak om alle standpunte te kan akkommodeer – nie net daardie standpunte wat die SAUK pas nie,” het Mulder bygevoeg.
“Tot op datum is geen verkiesingsdatum nog aangekondig nie. Op watter gronde kan die SAUK dan besluit om willekeurig van nou af sekere individue te verbied om aan inbelprogramme deel te neem? So ʼn verbod kan vir ʼn jaar bly staan as die verkiesing eers in 2017 plaasvind wat tans ʼn moontlikheid is,” het hy verduidelik.
Volgens Mulder bepaal die SAUK se redaksionele beleid dat die uitsaaier ten alle tye billikheid, onpartydigheid en balans moet nastreef en dat ʼn wye verskeidenheid standpunte geakkommodeer moet word. “Deur sekere individue te verbied om aan programme deel te neem, word hierdie aspek van die SAUK se redaksionele beleid oortree.”
Hy het bygevoeg dieselfde geld vir Okosa se lisensievereistes wat bepaal dat uitsaaiers ’n redelike poging moet aanwend om in hul uitsendings teenstrydige standpunte op ’n regverdige manier weer te gee, veral wanneer omstrede sake van openbare belang ter sprake is. “Okosa moet bepaal tot watter mate hierdie lisensievereiste oortree word deur hierdie opdragte by die SAUK ‘van bo’ om sekere individue te verbied om aan inbelprogramme deel te neem.”