Verteenwoordigers van die ANC-alliansie en die Solidariteit Beweging het Sondag ʼn historiese ooreenkoms voorgelê vir die herstel van ’n vreedsame, stabiele en volhoubare akademiese program aan die Universiteit van Pretoria (UP).
Die ooreenkoms kom nadat verteenwoordigers van onder meer die ANC in Gauteng, die SAKP, Cosatu, Sanco, Solidariteit en AfriForum Woensdag ʼn hoëvlak-vergadering in Pretoria gehou het oor die reeks gewelddadige gebeure wat verlede week tot die sluiting van UP gelei het.
“Veelpartygesprekke het ons land histories as beste praktyk gedien om komplekse sake van gemeenskaplike belang tussen verskeie belanghebbendes en partye op te los,” het die betrokke partye in ʼn gesamentlike verklaring gesê.
Die partye het op die volgende ooreengekom: Om intimidasie, ontwrigting, geweld en pogings om die universiteitsgemeenskap op grond van rassegrondslag te polariseer onvoorwaardelik te veroordeel; die transformasie van die universiteit en die taalbeleid asook die heropening van die universiteit. (Lees die volledige ooreenkoms hier)
’n Nuwe veelpartykomitee sal intussen ʼn nuwe taalbeleid vir die UP ontwikkel. Maroela Media het vroeër die week berig dat die wysigings wat aan die taalbeleid voorgestel is, nie dié van die taalbeleid-taakspan of die senaat was nie.
Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het tydens Sondag se mediakonferensie die hoop uitgespreek dat die ooreenkoms gebruik kan word om die situasies op ander kampusse te stabiliseer. “Kwaliteitonderrig is die enigste manier om uit armoede uit te kom.”
Hope Papo, provinsiale sekretaris van die ANC in Gauteng, het gesê indien daar probleme op kampusse in die land is, dat daar oplossings deur alle partye en belanghebbendes gevind moet word. “Elke universiteit moet ʼn institusionele forum hê waar alle brandende kwessies bespreek kan word soos taalbeleid en transformasie. Afrikaans, Engels en ander Afrika-tale word deur die grondwet erken en ons moet daartoe werk om al die tale te ontwikkel.”
Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het gesê dit is kommerwekkend dat die boodskap wat van kampusse regoor die land gestuur word, dié is dat die land in ʼn toestand van geweld is en dat daar spanning tussen wit en swart is. “Daar is ʼn ander Suid-Afrika waar mense met groot verskille mekaar in die middel vind en waar daar aan die grondwet voldoen word.”
Jacob Mamabolo, sekretaris van die SAKP in Gauteng, het gesê dié party sal nie geweld en intimidasie toelaat nie. “Ons het ʼn stabiele akademiese omgewing nodig. Geweld moet veroordeel word.”
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê die #FeesMustFall-beweging is gekaap deur radikale studente wat van geweld en intimidasie gebruik maak om hul eise te stel. “Die meerderheid studente – swart en wit – wil vreedsaam studeer. Hierdie is ʼn geskiedkundige ooreenkoms wat ʼn duidelike boodskap aan Suid-Afrikaners stuur dat die oorgrote meerderheid opstaan teen geweld en intimidasie en oplossings wil vind.”
Volgens Kriel het die bestuur van UP die onderneming gegee dat daar streng opgetree sal word teen studente wat gewelddadig is en akademiese bedrywighede by die universiteit ontwrig.