ʼn Erge storm Vrydagaand in Durban, KwaZulu-Natal, het tot die dood van minstens vyf mense gelei en groot skade aangerig.
Die storm het met ʼn stortvloed reën, hael en sterk wind gepaardgegaan. Bome is ontwortel en mure het ineengestort. Maroela Media het vroeër berig ʼn man is dood nadat ʼn muur by ’n huis op hom ineengestort het.
Robert McKenzie, woordvoerder van die provinsiale nooddienste, het gesê twee mense is deur weerlig doodgeslaan in Verulam terwyl nog twee mense in Mayville deur die weerlig gedood is. Volgens McKenzie is minstens 13 mense beseer weens mure wat ineengestort het, dakke wat afgewaai het of bome wat ontwortel is.
Inwoners regoor Durban het Saterdagoggend takke wat op heinings, dakke en in opritte geval het, verwyder. Talle paaie was met rommel bestrooi weens die storm.
Inkopiegangers by Durban se bekende Pavilion-winkelsentrum moes deur water loop om by hul gunstelingwinkels uit te kom aangesien die sentrum van Donderdagaand af onder water is.



