Maroela Media het vroeër berig Standers se vrou het ʼn aanklag van huishoudelike geweld by die Conville-polisiestasie teen hom aanhangig gemaak nadat die egpaar na bewering oor motorsleutels rusie gemaak het. Hy is voorlopig uit die DA geskors hangende ʼn dissiplinêre verhoor.
Dit het egter intussen aan die lig gekom dat Standers se vrou besluit het om die aanklag teen haar man terug te trek.
James Selfe, voorsitter van die DA se federale uitvoerende komitee, het Vrydag aan Maroela Media gesê aangesien die aanklag teen Standers teruggetrek en daar geen vervolgbare saak teen Standers is nie, het die federale komitee besluit om ook sy skorsing op te hef. Hy het gesê die besluit is reeds geneem en Standers sal binnekort ooreenkomstig ingelig word.
Kapt. Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat Standers se vrou wel aangedui het dat sy die aanklag teen hom wil terugtrek, maar nog nie ʼn verklaring in die verband afgelê het nie. “Al sou sy egter wel besluit om dit terug te trek, rus die onus steeds op die staat om te besluit of die saak wel laat vaar sal word,” het hy gesê.
“Daar is ʼn hoëprofiel-persoon by hierdie saak betrokke en volgens die volwaardige regsproses moet die staat die finale besluit neem of die persoon vervolg sal word al dan nie. Die dossier is tans by die staatsaanklaer en ons wag op sy besluit.”