
Argieffoto Foto: milkwood.net
Sedertdien het iets in dieselfde trant bygekom. Wat het Suid-Afrika voor kerse gehad?: “Elektrisiteit.”
Weens strenge waterbeperkings mag Bloemfonteiners nou hul tuine net elke tweede dag natgooi, maar met emmers. Motors mag net een keer per maand gewas word – uit ʼn emmer. Terwyl daar landswyd nog plek-plek gespook word om die emmerstelsel (vir ʼn ander doel) tot niet te maak, is Bloemfonteiners nou terug op die “emmerstelsel.”
Hier en daar is van die inwoners gelukkig om nog iewers ʼn emmer en lampetbeker van oorle ouma of oumagrootjie as ornamente te hê – emmers wat gebou was om te werk en nie soos die moderne plastiese emmers sommer die handvatsel te laat losskeur of noustrop trek wanneer dit bietjie vol getap word nie. Met die lampetbeker kan badwater ook in die emmers geskep word om die skaars water uit die tuinkraan mee aan te vul.
Die gewoonlik bypassende koos en skottel kan darem (vir die huidige nog) met rus gelaat word. Maar as dit nie vir die versiendheid van die vorige bedeling was om die Lesotho-Hooglandskema te bou nie, was die volgende stap dalk om weer ”longdrops” in die agterplaas op te rig.
Intussen kan Gautengers en ander verbruikers van Randwater darem ʼn sug van verligting slaak omdat hulle nie ook eersdaags die gevaar loop van “beurtwater” nie, nadat ʼn loonooreenkoms aangegaan is. Tot middel aanstaande jaar in elk geval.
Tog is daar dorpe wat vir tye nie water het nie. Swak beplanning, onbeheerste aanwas en migrasie na nie-bestaande werksgeleenthede, rou riool wat in waterstrome beland, gesondheidsgevare, dienstebetogings, gebarste waterpype … alles het deel van ons bestaan geword, of dit nou landelik of stedelik is. Intussen is die koei wat gemelk moes word om al die verkiesingsbeloftes te maak, droog gemelk.
Die lysie van sigbare tekens dat sake in die land nie vlot nie, word al hoe meer. Dienstebetogings raak al hoe gewelddadiger. HOP-huise (en skynbaar Nkandla ook) bars plek-plek uit mekaar weens swak vakmanskap (en gelaaide pryse) en rommelstrooi word selde deur reklame-aksies en nog minder deur wetstoepassing beantwoord. Dit veroorsaak sigbare tekens van verval – en is nie ʼn gawe advertensie van die land by buitelandse toeriste nie.
Sommige staatshospitale is knaend om die verkeerde redes in die nuus en dit kos dikwels baie “slegte joernalistiek” voor die owerhede uiteindelik besef hulle het nou soveel vrot eier in die gesig dat daar iets daadwerkliks aan gedoen moet word.
Natuurlik gaan dit nie oral so in Suid-Afrika nie. Talle binnelandse vakansiegangers wat ʼn draai in die Wes-Kaap gemaak het, kan lank nie uitgepraat raak van vertel hoe wonderlik dit was om te ervaar dat munisipale dienste vlot verloop nie. Tog wil die ANC hierdie provinsie ook “bevry.”
Daar word daagliks voorbeelde gegee van terreine, soos die ekonome dit stel, waar die land en selfs dele van sy ekonomie presteer ongeag, eerder as danksy die regering.
Geen wonder die regering en sy mediakornuite raak gefrustreerd dat die onafhanklike media (wat al hoe minder raak) nie die nodige aandag aan die regering se “goeie storie” gee nie en byvoorbeeld eerder die nuus sal dra oor ʼn minister wat skynbaar van haar kar na die binnekant van vliegtuie op internasionale reise verhuis het en nou die staat se reiskostes teen ʼn verbluffende spoed leegmelk.
Onnodig sinies? Bepaald, maar dis wat die deursnee publiek aan die bas voel. Veral, volgens die Orwelliaanse Animal Farm-terminologie wat al hoe meer in die media gebruik word – “all animals are equal but some animals are more equal than other animals.” Doen aansoek vir ʼn pos, beurs of selfs studielening, keuring vir ʼn beroepsrigting waaroor jy jou skoolloopbaan hard voor gewerk het en kyk of jy die raskwotas kan klop.
Tog, al is die regering hoe dikwels dikbek vir AfriForum en word dié instelling so maklik deur die kornuit-rektore en hul meelopers in geskrifte as “rassisties” afgemaak, word die voorbeelde waar dié instansie se hulp aan munisipaliteite om rioolplase en wateraanlegte weer aan die werk kry, al hoe meer.
Soos met die bekamping van plaasaanvalle, is daar positiewe bydraes wat die publiek op baie ander terreine kan lewer.
Nie dat dit altyd met dankbaarheid omarm word nie. Daar is steeds ʼn gekook om Afrikaans te verskraal en selfs uit die grondwet te steel. Daar is steeds pogings tot ekonomiese en selfs opvoedkundige marginalisasie. By nie alle Afrikanerhuishoudings ry die luukse viertrekvoertuie soggens by die duiwelsvurk-hekke waarvan die elektriese motor nie oornag voete gekry het nie, uit nie. Nie alle Afrikaners rig luukse vakansiehuise op nie. Inteendeel, kerke se koskaste raak leër en leër.
Stereotipering oor die Afrikaner se welstand raak net so onvanpas as om die talle swart mense in luukse motors raak te sien en dan die talle wat soggens langs die paaie staan en vir ʼn “piece job” bedel, mis te kyk.
Geen mate van mediamanipulasie om die “goeie storie” te vertel, gaan iets anders as weerstand ontlok solank dit wat skeeftrek danksy die regering se volstruispolitiek en argaïese ekonomiese idees nie mee weggedoen is nie.
Sodra die regering ophou om waar mislukkings wel raakgesien word dit op die verlede te blameer, sal die teiken van verwyte dalk ook meer geneig wees om die positiewe raak te sien – om dit te wil raaksien en saam skouer aan die wiel te sit. Daar is ʼn enorme poel van goedgesindheid op grondvlak wat wag om uitgebou te word, wat uitgebou moet word. Dan sal daar dalk ook minder Springboktruie (al is die Springbok deesdae tot ʼn klein kolletjie op die mou verban) verbrand word omdat daar diegene “aan die anderkant” is wat voel transformasie geskied te stadig.
Die Burger se hoofartikel vandag lui: “Met kop in die sand kan jy mos nie regeer.”
Presies.
Want so gaan ons terug na ʼn tyd van grondpaaie, die emmerstelsel en kerse, en raak dit moeilik om die goeie storie ook nog te verkwansel.