
Foto: @airlivenet, Twitter
Elf persone is dood en verskeie beseer nadat ʼn vliegtuig Saterdag by ʼn lugskou in Sussex, in die suidooste van Engeland, neergestort en verskeie motors op ʼn besige pad getref het.
Die voorval het omstreeks 12:20 GMT gebeur, het die plaaslike polisie gesê.
Die Hawker Hunter, ʼn enkelsitplek-vegvliegtuig, wat in die 1950’s en 1960’s in die Koninklike Lugmag gebruik is, het noord van Shoreham-lughawe neergestort waar die lugskou gehou is.
ʼn Aantal helikopters is ontplooi om pasiënte na die hospitaal te neem.
South East Coast Ambulance Service het vroeër bevestig sewe persone is op die toneel dood en nog ʼn persoon is in ʼn bedenklike toestand na Royal Sussex County-hospitaal geneem. Die vlieënier, Andy Hill, veg ook om sy lewe in die hospitaal. Die polisie het gewaarsku dat die dodetal moontlik kan styg.
ʼn Hyskraan sal Maandag gebruik word om die wrak te verwyder, en dit is moontlik dat nooddienste op nog liggame kan afkom.
Die eerste drie slagoffers is uitgeken as Matt Jones (24), ʼn persoonlike liggaamsinstrukteur, en die 23-jarige sokkerspelers Jacob Schilt en Matt Grimstone. ʼn Vermiste fietsryer, Mark Trussler, is een van die persone wat vermoedelik in die ongeluk gesterf het.
Altesaam 14 persone is vir geringe beserings behandel.
“Die persone is almal op die pad beseer en niemand op die vliegveld is beseer nie, het die polisie bygevoeg.
Volgens plaaslike media het die vliegtuig ʼn rolbeweging uitgevoer, maar kon nie weer hoogte kry nie.