Vyf regsverteenwoordigers, naamlik Timothy Ramabulana, Ralph Mokwala, Donald Sekwakweng, Mmatsela Motsepe en Michael Matlapeng, het die 27 beskuldigdes verteenwoordig.
Die staat het versoek dat die saak uitgestel word om die ondersoekspan kans te gee om beeldmateriaal en foto’s van die voorval te bekom. Ramabulana het ingestem dat die saak uitgestel word, maar het gesê dit behoort die enigste uitstel te wees aangesien die saak so gou moontlik afgehandel moet word om sy kliënte kans te gee om op hul studie te fokus.
Sekwakweng het die borgtog-voorwaardes wat stipuleer dat die beskuldigdes aan geen onwettige betogingsaksie mag deelneem nie, bevraagteken. Volgens hom word die studente sodoende van die reg ontneem om deel te neem aan “kwessies van nasionale belang” wat hulle ook raak. Die staat het egter volgehou dat ʼn deelname aan onwettige betogings ook deelname aan onwettige aktiwiteite is en daarom mag die studente nie toegelaat word om aan sulke aksies deel te neem nie.
Die studente, wat reeds oor die naweek op borgtog vrygelaat is, het die hof ná afloop van die saak verlaat. Die saak is tot 7 April uitgestel vir verdere ondersoek.
Mthokozisi Lukhele, die leier van die #UPrising-beweging, ook bekend as die #UPBlackMonday-beweging, het buite die hof gesê dat die inhegtenisnemings hulle nie afskrik nie, maar bloot hul geveg vir slegs Engels op die kampus versterk.
“Ons hou vol dat die universiteit slegs een onderrigtaal sal hê en dat Afrikaans en Sepedi nie deel daarvan sal vorm nie. Ons soek net Engels as onderrigtaal en ons sou nie nou in hierdie posisie gewees het as die universiteitsbestuur al verlede jaar die studente se memorandum in werking gestel het nie,” het Lukhele gesê.
“Ons sal ʼn goeie geveg veg en geen swart kind sal weer ondermyn word nie.”