ʼn Olifantkalfie wat slegs ʼn paar dae oud is, moes Dinsdag uit ʼn opgaardam van ʼn kopermyn in Phalaborwa, Limpopo, gered word.
Die kalfie, wat nou in die sorg van die niewinsgewende organisasie Elephants Alive is, het vermoedelik in die dam geval toe hy saam met sy trop by die dam kom water drink het.
Volgens Elephants Alive se Facebook-blad het Johan Bezuidenhout en Quenton du Plessis die olifantbulkalfie uit die dam gehaal en twee keer probeer vrylaat tussen olifanttroppe naby die dam, maar hulle wou hom nie aanvaar nie. Die olifantjie was ook baie gedehidreer en uitgeput en ʼn veearts moes ontbied word.
Die olifantjie, wat nou Amanzi gedoop is deur die personeel by Elephants Alive, word tans by die Hoedspruit-sentrum vir bedreigde spesies versorg, waar Lammie, ʼn skaap, hom geselskap hou.
Volgens Elephants Alive word Amanzi elke twee tot drie uur ʼn spesiale melkformule gevoer wat hom help om te herstel en sy krag weer op te bou. Afgesien van ʼn kneusplek bokant een van sy oë het Amanzi gelukkig nie erge beserings opgedoen toe hy in die dam geval het nie.
Amanzi is glo mal oor water en speel graag met ʼn krip vol drinkwater of rol rond in die modderpoel in sy kamp. Weens die hoë temperature in die provinsie, moes die span Amanzi ook fyn dophou om te bepaal of hy al die regte gedragspatrone aangeleer het om die hitte te kan hanteer.
“Hy is ʼn baie slim olifantjie,” het Elephants Alive geskryf. “Hy bly in die skaduwee en spat homself vol water as hy warm kry. Hy probeer selfs die kraan oopdraai as ons nie vinnig genoeg spring om hom af te spuit nie!”
Besoek gerus Elephants Alive se webwerf om by te dra tot Amanzi se versorgingskoste.




