
Die Toyota waarin die tieners gery het (Foto: Crisis Medical)
Twee tieners is Sondagoggend vroeg op die M4 naby Sibaya Casino, noord van Durban, dood toe hulle met ʼn Toyota agter in ʼn stilstaande vragmotor vasgery het.
“Die motor het teen ʼn hoë snelheid die vragmotor van agter getref,” het Kyle van Reenen, woordvoerder van Crisis Medical, in ʼn verklaring gesê. “Die vragmotor het in die linkerkantste baan gestaan nadat dit onklaar geraak het.”
Die twee tienerseuns is op die toneel dood verklaar.
ʼn Derde persoon, wat ʼn passasier in die motor was, is in ʼn ernstige toestand in ʼn plaaslike hospitaal.
Die polisie stel ondersoek in.