Die Nasionale Vervolgingsgesag gaan die voormalige hoof van die Valke, Anwa Dramat, die eenheid se voormalige hoof in Gauteng, Shadrack Sibiya, en polisiekaptein Leslie Maluleke vervolg in verband met die onwettige uitlewering van Zimbabwiërs in 2010.
“Die direkteur van openbare vervolging het besluit om die beskuldigdes te vervolg op sewe aanklagte van ontvoering, met alternatiewe aanklagte van sameswering om iemand te ontvoer, een aanklag van dwarsboming van die gereg en vier aanklagte vir onwettige deportasie onder die Immigrasiewet,” het Luvuyo Mfaku, woordvoerder van die NVG, in ʼn verklaring gesê. “Daar is ook drie aanklagte van diefstal teen kapt. Maluleke.”
Volgens Mfaku was die beskuldigdes lede van die polisie se prioriteitsmisdaadeenheid (Valke) en die klagtes spruit uit hul betrokkenheid by die inhegtenisneming van sewe Zimbabwiese immigrante in November 2010 en Januarie 2011 en die gevolglike “onwettige deportasie” van vier van die persone. “Van die persone se besittings is ook tydens die inhegtenisneming gevat. Die besluit is geneem ná sorgvuldige ondersoek van die beskikbare getuienis,” het Mfaku gesê.
Hy het gesê die beskuldigdes se regsverteenwoordigers is Vrydag in kennis gestel van die besluit en hulle sal binne die volgende twee weke in die hof verskyn ná geskikte reëlings getref is tussen hul regsverteenwoordigers en die staatsaanklaer.
Dramat is in Desember 2014 geskors, maar sy skorsing is ʼn maand later teruggetrek nadat die Pretoriasehooggeregshof bevind het dat die besluit ongeldig was. Hy het in April 2015 bedank nadat hy ʼn “skikking” met die bestuur van die polisie aangegaan het. Die polisie wou nie die aard of finansiële omvang van Dramat se pakket bespreek nie.
Sibiya is in September 2015 uit die Valke afgedank ná ʼn onafhanklike ondersoek hom skuldig bevind het aan wangedrag wat betref die uitlewerings. In daardie stadium het hy aangedui dat hy teen sy afdanking sal appelleer.
Die polisie voer aan Dramat en Sibiya het onwettig met Zimbabwiese polisiebeamptes ʼn reëling getref en ingestem om die sewe verdagtes op te spoor, in hegtenis te neem, en uit te lewer. Suid-Afrika en Zimbabwe het nie ʼn uitleweringsooreenkoms nie. Van die verdagtes wat aan die Zimbabwiese polisie oorgegee is, het later in aanhouding gesterf.
Lees alle vorige berigte oor Anwa Dramat op Maroela Media.